Lid van ysterpen-bende vas

Ysterpenne op paaie. (Foto: Gautengse verkeerspolisie)

’n 23-jarige man wat vermoedelik deel is van ’n bende wat ysterpenne op die N4-snelweg by Brits, Noordwes, plaas om motoriste in lokvalle te lei en te beroof, is in hegtenis geneem. Dit volg nadat hy en sy makker in hul spore gestuit is nadat hulle ’n motoris beroof het.

Volgens lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het die rooftog Woensdag langs die N4-snelweg naby die Brits-tolhek plaasgevind.

“Volgens inligting het die motoris langs die pad stilgehou om medikasie uit sy motor se kattebak te haal toe hy deur twee gewapende mans oorval is. Die mans het geld geëis,” sê Funani.

“Die mans het die motoris van ’n onbevestigde bedrag kontant, twee selfone en klere beroof. Hulle het ’n geweerskoot in die rigting van die motoris afgevuur en daarna van die toneel gevlug.”

Die verdagtes het in die veld langs die hoofweg in gevlug.

Die motoris het na die tolhek gery waar hy lede van Brits se landelike veiligheidseenheid gekry het. Lede van dié eenheid het saam met die polisie gereageer en die verdagtes agternagesit.

“Die verdagtes het probeer wegkom toe hulle die polisie sien, maar een van hulle is suksesvol aangekeer. Tydens die inhegtenisneming is twee selfone, ’n vuurwapen en ammunisie in die verdagte se besit gevind.”

Daar is vasgestel dat beide verdagtes van Mosambiekse herkoms is en onwettig in die land is.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof op Brits verskyn op aanklag van gewapende roof, poging tot moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die polisie is steeds op die spoor van die ander verdagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Casper ·

Maar wat verbind hulle met die ysterpen bende,daar word nie melding daarvan gemaak in die berig nie.

Di ·

Dog Cele het gese dat dit nie onwettige kriminele is wat die land teister nie? Elke dag in die nuus is daar hierdie skelms wat gevang word en onwettig in die land is. GRENSPOSTE word nie reg beheer nie en baie van hulle wat daar werk is korrupte beamptes

SomeOne ·

daar is geen grense nie, loop van een “land” na die ander waar daar geen beheer oor is nie, kyk maar na die wasgoed lyn wat tussen suid afrika en zimbabwe gespan is

Lillian ·

Onwettige immigrante bodder nie om by grensposte deur te kom nie, hulle kruip deur die stukkende heining wat miljoene gekos het om op te rig, en reeds verwoes is.

SjN ·

Die een wat gevang is kan mos met die hele sak patats vorendag kom?

Delia ·

Geen borg. Daar is al mense vermoor op die manier. Ondersoek die knaap goed

SomeOne ·

dae van hardhandige ondersoek is lankal verby, misdadigers het ook mos mense regte

George ·

Sover ek uitmaak op die, is geen verbintenis met die spikings nie, die motoris het stilgehou vir medikasie en is nie gespike nie. Al wat dieselfde is, is die N4 en roof. Dis dit.

Papsak ·

Waar is vreeslik hoed minister van polisie hoekom doen hy nie iets hieraan nie maar nee hy bang vir sy anc broers en gade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.