Liggame in motor geïdentifiseer

Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) is Vrydagmiddag laas by Kirkland se woonstelgebou op Stellenbosch gewaar (Foto: SAPS)

Die polisie het bevestig dat die liggame in die maroenkleurige Subaru Forester – wat in ʼn steengroef in Stellenbosch gevind is – wel dié van die vermiste Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) is.

ʼn Soektog na Lees en Kirkland is sedert Saterdag aan die gang nadat hulle by die polisie as vermis aangemeld is.

Volgens AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het ʼn gemeenskapslid Maandag omstreeks 10:10 ʼn voorwerp in die steengroef op die hoek van Paul Kruger- en Birdstraat in Stellenbosch gewaar. Die persoon het die owerhede na die toneel ontbied.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die wiele van ʼn motor uit die water in die steengroef sien uitsteek. Die res van die motor was nie sigbaar nie,” sê Swartbooi.

“Die polisie se duikeenheid is na die toneel ontbied en het gehelp om die motor uit die steengroef te haal.”

Binne die motor is twee liggame gevind wat as Kirkland en Lees geïdentifiseer is.

“Albei slagoffers is op die toneel dood verklaar.”

ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen en die oorsaak van die twee studente se dood is nog nie duidelik nie.

“Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.”

Maroela Media het vroeër berig Kirkland en Lees is Vrydag omstreeks 17:00 vir die laaste keer buite Kirkland se woonstelgebou op Stellenbosch gewaar. Hulle is saam in die Subaru met die registrasienommer CA 280 247 gewaar.

Kirkland was ʼn eerstejaar-BSc-rekenaarwetenskapstudent en Lees ʼn kelnerin by ʼn plaaslike restaurant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

hantie ·

Hierdie is skokkend hartseer om te lees. Hulle was nog so jonk. Mens kan net wonder hoe dit dan nou sou gebeur het. My hart gaan uit na almal wat bekommerd was en ook die familie en vriende.

Christine ·

Elders gelees dat hy beheer oor die voertuig in die nag verloor het en in die steengroef dam beland het. Albei het verdrink.

Mariana ·

Hoe hartseer dat twee jongmense so moes sterf. Simpatie aan die families.

Danie ·

Skokkend en hartseer geval wat baie vra oorlaat.Sterkte aan die families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.