Luister: Verhaal van VBS se epiese bedrog van R2 miljard

Dewald van Rensburg het met Maroela Media oor die VBS-bankskandaal gesels. (Foto: Maroela Media)

Dewald van Rensburg, ʼn ondersoekende joernalis van amaBhungane, was een van die joernaliste wat die eerste berigte oor die ineenstorting van die VBS Mutual Bank in Limpopo geskryf het, en hy het die skandaal twee jaar lank gevolg.

In sy boek VBS: A Dream Defrauded het hy die spoor van die geld gevolg – van hoe die bank sake gedoen het, hoe geld hiervoor gevind is en hoe dit ook gesteel is.

Dié bank was in Oktober weer hoofnuus na Phillip Truter, die voormalige finansiële hoof van die bank, tien jaar tronkstraf opgelê is. Hy het skuldig gepleit op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Intussen het talle munisipaliteite wat geld tydens die skandaal verloor het, eise van altesaam R1,5 miljard by die likwidateurs ingedien volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Die vermeende baasbrein agter die VBS-bankskandaal Tshifhiwa Matodzi in die hof. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Miljarde rande het saam met die droom van die bank verdwyn, wat hom bemark het as ʼn vreeslose voorstander van swart vooruitgang, en dit was meestal mense wat dit reeds nie breed gehad het nie, wat hulle laaste spaargeldjies met dié bank se ineenstorting verloor het.

Van Rensburg het met Maroela Media gesels oor sy boek VBS: A Dream Defrauded wat die bankskandaal tot op die been oopvlek. Hy antwoord op die vraag op almal se lippe: wanneer word die mense wat die bank se geld laat verdwyn het, vervolg.

Die boek is ʼn rekord van ʼn bankroof waarvan die skokgolwe steeds by politici, sakelui en tradisionele leiers spook wat dit moontlik gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.