LUR vasbeslote om korrupsie hok te slaan

Nkosinathi Emmanuel Masina (Foto verskaf deur die Mpumalanga- departement van gemeenskapsveiligheid)

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het gesê korrupsie en bedrog in verkeerswetstoepassing moet uitgeroei word, omdat dit ʼn negatiewe impak het op die regering se pogings tot padveiligheid.

Hy het reageer op die onlangse inhegtenisneming van Nkosinathi Emmanuel Masina (39).

Masina is verlede week Vrydag deur beamptes van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie. Hy het Maandag in die Barberton-landdroshof verskyn. Hy is vrygelaat op borgtog van R1 000 en die saak is tot 12 Mei 2021 uitgestel en oorgeplaas na die Nelspruit-handelsmisdaadhof.

“Ons is baie teleurgesteld oor die inhegtenisnemings van een van ons verkeersbeamptes op aanklag van korrupsie,” het Shongwe bygevoeg. “Ons beskou die saak in ʼn ernstige lig. Ek het die waarnemende departementshoof opdrag gegee om ondersoek in te stel en dit sal die pad vorentoe bepaal.”

Die departement het onlangs ses beamptes by die Standerton-toetsbestuursentrum afgedank ná hulle skuldig bevind is oor bedrieglike transaksies op die eNatis-stelsel. Die ses persone is verlede jaar deur die Valke, in samewerking met die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) in hegtenis geneem.

Die departement neem ook kennis van die inhegtenisneming van eksaminators en ʼn administratiewe klerk verlede week. Die beamptes was onderskeidelik by Graskop, Elukwatini en Carolina gestasioneer. Die vier persone is verlede week deur die Valke in hegtenis geneem op aanklag dat hulle op ʼn bedrieglike wyse rybewyse en leerlinglisensies uitgereik het. Hulle het reeds in verskeie howe verskyn en is vrygelaat op borgtog.

Die departement sal na verwagting interne dissiplinêre prosesse volg.

ʼn Ondersoek is ook van stapel gestuur ná een van die provinsiale verkeersbeamptes in Ermelo in hegtenis geneem is op aanklag dat hy twee weke gelede omkoopgeld van R50 van ʼn motoris aanvaar het.

Shongwe doen ʼn beroep op verkeersbeamptes om altyd die wet toe te pas – sonder vrees of versuim. Hy het gesê omkoopgeld bevorder indirek roekelose bestuursgedrag en dit kan tot lewensverlies uit padongelukke lei.

Hy pleit ook dat motoriste nie verkeersbeamptes sal omkoop nie en eerder enige voorval by die polisie aan te meld waar beamptes “koeldrank” eis. “In ons pogings om onnodige lewensverlies op ons paaie te voorkom, sal ons nie enige optrede duld wat dit direk saboteer nie en dit sluit korrupsie in.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

En daar maak die ANC al weer dat ek van my stoel af val van die lag. Ek doen maar ‘n Zuma….he he ha ha!

Coenraad ·

Weer moet dit, moet dat, maar “ek/ons hét”, hoor ons nie.

Jack ·

Die korrupsie wat die ANC (en die land) so teister is ‘n mutasie wat veroorsaak is deur hulle besmetting met kommunimee en al die leuens wat hulle daarna versprei het oor apartheid. Dis nou te laat, korrupsie is het deel van die ANC se DNA geword.

Sarel ·

Al wil hy dit doen is die vraag gaan hy Polities toegelaat word

Dup ·

Die dief gaan ñ dief aankla en gaan deur ñ dief verhoor word.Daarna gaan die dief deur n dief tronkstraf opgelê word.So gaan die diewe sorg dat al die diewe in die tronk of parlement beland.

Debby ·

As ek so na hom kyk het hy al n hele paar R100 rantjies gekry vir ” Lunch money”

Alet ·

Nee wat praat jy van roekelose bestuurders wat hulle lisensies onwettig verkry? Is dit nie die alewige spoed en drank wat ongelukke veroorsaak nie?

Hennie ·

Lekker spekvet en gesond… Die Telly Tubby het nie die vermoë om te doen wat hy sê nie!

Blikkies ·

Ons weet dis n grap en gaan nooit gebeur nie, maar as hipoteties gestel ‘se maar net’ hulle doen regtig iets aan die korrupsie by verkeers beamptes en lisensie kantore? wat gebeur met die ontvangers van die korrupte of betaalde bestuur lisensies? moet hulle nie ook aangekeer en aangekla word van bedrog nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.