Man agter tralies ná huisbrand twee eis

Foto ter illustrasie (Foto: Drakenstein Farm Watch/Facebook)

Die polisie het Saterdag ʼn 29-jarige voortvlugtende in Limpopo vasgetrek. Hy word verdink van die stigting van ʼn brand verlede week, wat die lewe van ʼn vrou en ʼn kleuter geëis het.

Die brand het vroeg Sondagoggend van 11 Desember plaasgevind, toe die verdagte glo petrol deur die venster van ʼn huis in die Plange-nedersetting in Mtiti gegooi en die huis aan die brand gesteek het. Twee vroue en vier kinders was in die huis ten tye van die voorval.

Volgens die polisie in Limpopo het die driejarige Vunene Ngobeni binne ure ná die voorval aan sy wonde beswyk. Die 23-jarige Nhlayiseko Precious Mabasa is ʼn paar dae later oorlede. “Die oorblywende slagoffers is steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal,” het die provinsiale polisiewoordvoerder Saterdag gesê.

Die polisie het Chauke gevolglik Vrydag in die Magona-nedersetting naby die Krugerwildtuin vasgetrek. Hy sal na verwagting binnekort in die Malamulele-landdroshof in Limpopo verskyn op twee aanklagte van moord en vier van poging tot moord.

Volgens die polisie in Limpopo was die verdagte, Edward Chauke, glo die vorige dag by dié huis, waar ʼn onderonsie tussen hom en sy voormalige vriendin uitgebreek het. Sy het in die huis gewoon saam met haar twee kinders (twee maande en twee jaar oud), asook haar niggie en dié se kinders (drie en ses jaar oud).

Die slagoffers is deur gemeenskapslede uit die huis gered, nadat hulle om hulp geroep het. Die verdagte het gevlug.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.