ʼn 31-jarige man is Vrydagmiddag beseer toe twee motorvoertuie sy trekker in Nelson Mandelarylaan in Bloemfontein in die Vrystaat getref het.
“Lede van die publiek het die man reeds versigtig van die trekker afgehaal toe paramedici van ER24 by die toneel opgedaag het,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Die man het kop- en nekbeserings opgedoen.”
Volgens Meiring is die man in ʼn stabiele toestand. Hy is na die Pelonomi-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.