ʼn Man het glo Woensdag in die vroeë oggendure in die Roerfontein- informele nedersetting in Limpopo selfmoord gepleeg ná ʼn onderonsie tussen hom, sy vriendin en sy vrou.
Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Mamokotope Evans Kgomola (28) het omstreeks 02:20 saam met sy vriendin by die huis aangekom waarna ʼn rusie uitgebreek het. Hy het sy vriendin en sy vrou met lappe vasgebind.
“Daarna het hy glo sy vriendin doodgeskiet en sy vrou met ʼn harde voorwerp aangerand. Sy het oorleef, maar het verskeie beserings oor haar hele lyf,” het Ngoepe gesê.
Die man het toe glo homself om die lewe gebring. Hy is in ʼn plas bloed aangetref met die vuurwapen wat langs hom gelê het.
Ngoepe het bevestig dat die polisie nie in dié stadium enige vuilspel vermoed wat sy dood betref nie, maar dat die uitslae van die nadoodse ondersoek die polisie se ondersoek verder sal lei.
Die oorledene se vriendin is as Eulenda Manganyi (29) geïdentifiseer.
Die presiese motief agter die moorde word nog ondersoek.
ʼn Saak van moord word ondersoek en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Boodskap aan die sensorraad: welgedaan!