Man gesoek oor kindersekshandel

Gerhard Ackerman (Foto: Twitter)

Die hooggeregshof in Johannesburg het ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van Gerhard Ackerman wat nie Dinsdag vir sy hofsaak opgedaag het nie.

Ackerman word saam met sy medebeskuldigde, adv. Paul Kennedy, in hegtenis geneem omdat hulle glo ’n kindersekshandel-sindikaat bedryf het. Kennedy het intussen sy eie lewe geneem.

Ackerman staan tereg op 740 aanklagte van verkragting, poging tot moord, die verspreiding van kinderpornografie, mensehandel en seksuele aanranding. Sy verhoor het Maandag begin.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), was Ackerman glo siek, maar het versuim om ’n doktersbrief aan die hof te verskaf.

“Staatsadvokaat Valencia Dube het vroeër die hof genader met ’n dringende aansoek om Ackerman se borgtog te laat kanselleer, ná sy versuim om te voldoen aan die hofbevel om die staat van ’n doktersbrief Vrydag te voorsien,” sê Mjonondwane.

“Die ondersoekspan het vinnig opgetree en sy woonplek besoek nadat hulle besef het dat die beskuldigde onbereikbaar geword het. Met hul aankoms het hulle gevind dat die beskuldigde uitgetrek het en al sy roerende bates verkoop het. Hy het intussen verdwyn, wat ’n oortreding van die borgtogvoorwaardes is.”

Ackerman is in 2021 deur die Johannesburgse landdroshof borgtog van R6 000 toegestaan op voorwaarde dat hy hom daagliks by die naaste polisiestasie aanmeld, nie Gauteng mag verlaat sonder toestemming van die ondersoekbeampte nie, en nie toegelaat word om in besit van ’n skootrekenaar of selfoon te wees om toegang tot die internet te verkry nie.

Ackerman het na bewering saam met Kennedy gewerk in ’n beweerde sindikaat wat jong seuns gelok het, waarna hulle na bewering seksueel aangerand, verkrag en aan pornografiese materiaal blootgestel is.

“Die staat sal onvermoeid werk om Ackerman vas te trek en verwelkom enige bystand deur lede van die publiek om hom op te spoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.