Man jaag weg ná hy 3 raakry; later vasgetrek

‘n Foto van die toneel in Verulam (Foto: Reaction Unit SA)

ʼn 23-jarige man van KwaZulu-Natal is Saterdag in hegtenis geneem nadat hy eers drie mense ernstig in ʼn tref-en-trap-ongeluk beseer en toe van die toneel af weggejaag het.

Prem Balram, ʼn woordvoerder vir die KwaZulu-Natalse gemeenskapspolisiëringsforum Reaction Unit SA, sê lede van dié reaksie-eenheid het verskeie oproepe ontvang om hulle na die toneel te haas.

Balram sê ʼn taxibestuurder het na bewering twee vroue en ʼn man raakgery en toe weggejaag. Die twee vroue is in ʼn kritieke toestand en die man het matige beserings opgedoen.

“Die drie slagoffers is op die toneel gestabiliseer en daarna na die hospitaal gehaas vir mediese behandeling,” sê hy.

Lede van die reaksie-eenheid het glo op die toneel ʼn wenk ontvang van waar die beweerde taxibestuurder woon. “Die beamptes het op die inligting gereageer en die stukkende minibustaxi in ʼn informele nedersetting aangetref. Met nadere ondersoek kon die reaksie-eenheid die bestuurder binne sy huis vastrek. Hy was onder die invloed van alkohol en die minibustaxi se sleutels was in sy besit.”

Balram sê die man is in polisieaanhouding in Verulam in KwaZulu-Natal. Meer inligting was nie onmiddellik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CAROL ·

In die geval skip prokureurs, borg en al daai snert – stuur reguit tronk toe en gooi sleutel weg!!!

En nou... ·

En hulle wil grond hê. Kan nie eens verantwoordelikheid vat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.