Man, kind (11) in Lavender Hill doodgeskiet

Jordan is Vrydag in Lavender Hill doodgeskiet. Foto: Facebook)

’n Elfjarige seun en ’n 42-jarige man is Vrydagmiddag in Lavender Hill in die Wes-Kaap doodgeskiet. Daar word beweer dat die slagoffers pa en seun was.

Die seun is intussen op sosiale media geïdentifiseer as ene Jordan van Lavender Hill. Medelye stroom in.

Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Saterdag aan Maroela Media gesê die presiese omstandighede rakende die skietery is nie in dié stadium duidelik nie. Dit is wel moontlik dat die voorval bendeverwant is.

Die man en seun is dood verklaar nadat daar omstreeks 14:00 ’n skietery by ’n perseel in Shepherdweg uitgebreek het. ’n Tweede volwasse man is in die skietery gewond en na ’n nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

’n Saak van dubbele moord en poging tot moord is intussen by die Steenberg-polisie aanhangig gemaak vir ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.