Man sterf tydens skietery met City Power-wagte

(Foto: City Power/Twitter)

ʼn Man is Vrydag in Lenasia doodgeskiet ná hy skote op City Power se privaat veiligheidswagte gevuur het. Hy wou glo met gesteelde eiendom vlug.

“Die voorval het in Vermontstraat in Eldorado Park plaasgevind,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power. “Die maatskappy se veiligheidswagte is ontbied oor vermeende kabeldiefstal wat aan die gang was.”

Toe die veiligheidswagte by die toneel opdaag, het een van die verdagtes ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en skote op hulle gevuur. “Die gewapende beamptes het teruggeskiet en die man is noodlottig gewond.”

Die polisie in Eldorado Park ondersoek ʼn saak van moord.

“Nog ʼn verdagte, wat ook op die toneel was, is nie beseer nie. Hy is in hegtenis geneem. Hy het koperkabels en 500 LED-straatligdeksels in sy besit gehad. Dit is vermoedelik van ʼn nabygeleë skool gesteel.”

Die 22-jarige verdagte staan tereg op aanklag van diefstal en die besit van gesteelde eiendom.

“Die voorval kom te midde van ʼn toename in die gevalle van kabeldiefstal en vandalisme in Johannesburg die afgelope paar weke,” sê Mangena.

City Power het in Januarie meer as 200 gevalle van kabeldiefstal en vandalisme aangeteken.

“Slegs hierdie afgelope naweek het ons 14 soortgelyke voorvalle reg oor alle diensleweringsentra gehad, met vyf gevalle waar straatligte tydens dieselfde periode gevandaliseer is. Dit is baie kommerwekkend. Dit benadeel City Power se vermoë om ononderbroke kragtoevoer aan sy kliënte te verskaf.”

Mangena sê die maatskappy vra om verskoning vir diegene wat deur dié misdade geraak word.

“Weens die hoë getal gevalle van diefstal van transformators en vandalisme aan minisubstasies, is die aanvraag na dié toerusting hoër as wat City Power in voorraad beskikbaar het. Dit beïnvloed ons vermoë om te reageer om kragtoevoer betyds te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Goed gedaan maar nou n saak van poging tot moord………Verstaan nie.

Kokerboom ·

Terrorisme in erge graad. Dki ANC vir 30 jaar van sosio-ekonomiese verval!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.