Man uit kar in Jukskei-rivier gered

Paramedici red man uit ‘n motorwrak in die Jukskei-rivier. (Foto: Facebook/ Emer-G-Med)

ʼn Man moes Vrydagmiddag uit sy motor bevry word nadat die motor in die Jukskei-rivier in Gauteng beland het. Die sportnutsvoertuig het van ʼn brug af die rivier ingery nadat dit in ʼn botsing op die N14 by Diepsloot betrokke was.

ʼn Vragmotor, wat ook in die botsing betrokke was, het ook in die rivier beland. Nog ʼn ligte motorvoertuig is in die middel van die hoofweg aangetref.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê verskeie nooddienste is die middag na die ongelukstoneel ontplooi. Volgens die mediese diens Emer-G-Med, kon die insittendes van die vragmotor sonder moeite uit die voertuig gehaal word.

Paramedici het egter gesien ʼn man is in die sportnutsvoertuig in die rivier vasgekeer. Die man was nie by sy bewussyn nie.

“Spesiale toerusting is gebruik om die man uit die voertuig te bevry en na paramedici te bring wat langs die pad geparkeer was,” sê Meiring.

Volgens Emer-G-Med moes die man aan ʼn ventilator gekoppel word om hom te help asemhaal.

Meiring sê ook die man het lewensondersteunende behandeling ontvang en is toe per ambulanshelikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Die polisie ondersoek die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.