Man vas vir kreef ter waarde van R3,5 miljoen

Argieffoto

ʼn 38-jarige man is Maandagoggend in Gordonsbaai in die Wes-Kaap vasgetrek vir die onwettige besit van kreef ter waarde van R3,5 miljoen.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die man is vanoggend omstreeks 06:40 deur ʼn sekuriteitsbeampte van ʼn plaaslike Gordonsbaai-sekuriteitsmaatskappy aangekeer.

Die beampte was besig om die gebied te patrolleer toe hy inligting omtrent ʼn verdagte Nissan-bakkie in die Lwandle-township tussen Gordonsbaai en die Strand ontvang het.

“Toe die bestuurder van die verdagte voertuig besef hy word agtervolg, het hy na die N2-snelweg, in die rigting van Somerset-Wes, gejaag,” vertel Van Wyk. “Die polisie het ook in die jaagtog betrokke geraak en hom toe naby Sir Lowry’s Pass op die N2 afgetrek.”

Die vuurwapen waarop beslag gelê is (Foto: SAPD)

Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem. Toe die polisie die voertuig begin deursoek, het hulle op altesaam 6 832 kreefsterte en 235 lewende krewe op die voertuig afgekom.

Die krewe is aan die departement van omgewingsake, bosbou en vissery oorhandig.

Die verdagte sal na verwagting eersdaags in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.

In ʼn onverwante voorval het lede van die Kraaifontein-polisie in die Wes-Kaap ʼn 22-jarige man vasgetrek wat in besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen gevind is.

“Die polisie was besig om die Scottsdene-omgewing in Kraaifontein te patrolleer toe hulle inligting oor dié jong man ontvang en het hom toe in Hartebeesstraat in Scottsdene aangekeer. Hy het die beskrywing wat aan hulle deurgegee is, gepas.”

Van Wyk sê toe die verdagte die polisie gewaar, het hy in ʼn nabygeleë eiendom ingehardloop in ʼn poging om weg te kom. Hy het ook ʼn voorwerp op die grond neergegooi.

“By nadere ondersoek het die polisie bevind dat die voorwerp ʼn handgemaakte 9 mm-vuurwapen met twee rondes ammunisie was.”

Die man is terstond in hegtenis geneem vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie. Hy het Maandag vlugtig in die Blue Downs-landdroshof op die Kaapse Vlakte verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Wat gebeur nou met die kreef…..eet die polisie dit op? Hulle sal moet “Eet Kreef” dat die sous soe staan!

Pieter ·

So plunder julle als daar gaan net mooi van die ANC land oor bly nie

JM ·

Suid-Afrika = misdaad. Ons weet nie meer wat positiewe nuus is nie!

Rudolph ·

Uit kommentaar lyk dit mense se grootse bekommernis is dat iemand anders die kreef gaan eet. Niemand is bekommerd oor die feit dat die weerlose diere vir mense se smaak uitgeroei word nie. Ons wys graag vinger na die stropers terwyl ons die kreefsous van ons vingers aflêk

Mieke ·

Dis in elk geval so duur dat ons nie eens kan bekostig nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.