Man vas vir moord op jong ma, kleuter

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

Die man wat daarvan verdink word dat hy ʼn jong ma en haar kleuter Maandag vermoor het, is reeds in hegtenis geneem.

Die 32-jarige verdagte is Dinsdag in Balfour in Mpumalanga, waar die moord plaasgevind het, vasgetrek.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die verdagte sal na verwagting Donderdag in die Balfour-landdroshof verskyn op aanklag van moord en regsverydeling.

Die inhegtenisneming volg nadat ʼn 24-jarige vrou en haar twee jaar oue babadogtertjie dood in hul huis in die Siyathemba- informele nedersetting in Balfour aangetref is. Die vrou het op die kombuisvloer gelê, terwyl die dogtertjie se lewelose liggaam in die slaapkamer gevind is.

Volgens Mohlala is die vrou verwurg en het die kind erge beserings aan haar nek opgedoen. Albei is op die toneel dood verklaar.

Die polisie het dadelik ʼn ondersoek na die voorval geloods en gevind dat die vrou se vyf maande oue kind nêrens te vinde was nie. Dit het aan die lig gekom dat dié kind na bewering deur sy pa geneem is en ongedeerd is.

Dit is nog nie duidelik of die baba se pa ook die verdagte is wat vasgetrek is vir die moord op die vrou en kind nie.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het haar waardering vir die beamptes se vasberadenheid en toewyding in die ondersoek uitgespreek.

“Ek onderneem dat die polisie sal voortgaan om die vlaag van misdade teen vroue en kinders te beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Porseleintjie ·

Hy sal ook seker net n R20 000 boete kry en n opgeskorte vonnis. Dis hoe de regerende party se beskerming vir vroue lyk.

JM ·

Boosheid in hierdie land het skrikwekkende afmetings aangeneem. Waar gaan dit eindig? Daagliks gaan berigte net oor moord en doodslag.

Eden ·

In plakkerskampe is hierdie tipe huishoudelike geweld alledaags. Wat ‘n gemors vir inwoners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.