Man vas wat dreig om hof ‘op te blaas’

Die hooggeregshof in Kimberley (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

’n 51-jarige man van Kimberley in die Noord-Kaap is in hegtenis geneem nadat hy glo gedreig het om die hooggeregshof in die stad op te blaas.

Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, is inligting verlede week ontvang dat die verdagte op sosiale media gedreig het om die hooggeregshof te teiken.

“Die verdagte het beweer dat amptenare in diens van die hooggeregshof korrup is en het gedreig dat indien hulle nie voor Vrydag [16 Desember] in hegtenis geneem word nie, hy die hooggeregshof gaan opblaas,” sê Mnisi.

“Daar word verder beweer dat hy op sosiale media ʼn inskrywing geplaas het met foto’s van houers wat hy glo met petrol gaan vul om só die hof op te blaas.”

Lede van die Valke het ’n deursoek-en‑beslagleggingsoperasie by die verdagte se woning uitgevoer en daar is beslag gelê op bewyse wat die aanklagte ondersteun.

Die verdagte is Donderdag in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof in Kimberley verskyn.

Hy word tans in die aanhoudingselle by die polisiestasie in die stad aangehou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.