Man verdrink by Melkbosstrand

(Foto: Morris Pieterse.)

’n Man het Saterdagmiddag in die see by Melkbosstrand in die Wes-Kaap verdrink. Die man is vermoedelik deur sterk seestrome meegesleur terwyl hy in die see geswem het. Sy naam en ouderdom is nie in dié stadium bekend nie.

Nooddiensspanne en lewensredders van die Stad Kaapstad was eerste op die toneel en het die man uit die water gehaal en noodhulp toegepas. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), polisie en ander nooddienste is ook ontbied.

“Nadat uitgebreide pogings om die man by te bring uitgeput was, is hy op die toneel deur paramedici dood verklaar,” het die NSRI Sondag gesê.

“Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek. Die man se liggaam is deur die provinsiale regering se forensiese patologiese dienste weggeneem.”

Die NSRI het hul medelye aan die man se naasbestaandes betuig, en ’n beroep op baaiers gedoen om versigtig te wees.

“Ons pleit by baaiers om op strande te swem waar lewensredders aanwesig is, en om te alle tye in die veilige sones te swem wat deur lewensredders afgebaken is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.