Man verdrink in Witbank-dam

(Foto ter illustrasie: Facebook / NSRI, Witbank)

ʼn 35-jarige man het Saterdag in die Witbank-dam by Emalahleni verdrink.

Volgens Travis Clack, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se stasiebevelvoerder by die Witbank-dam, het die man onder die water verdwyn nadat hy vermoedelik van ʼn duikplatform in die water gespring het.

Die voorval het kort voor 15:00 plaasgevind.

Omstanders het aanvanklik gedink dat die man dalk van die rotse naby ʼn plaaslike restaurant afgeval het, maar ooggetuies het later aan die NSRI gesê dat hy moontlik van die betrokke platform afgespring het. Die man is glo van die Witbank-omgewing.

Die polisie, duikspanne en private ambulansdienste is saam met die NSRI ontplooi om na die man te help soek.

Clack sê die man se liggaam is tydens ’n skubasoektog deur polisieduikers gevind. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.

Die water waarin die man se liggaam gevind is, is ongeveer ses meter diep, aldus Clack.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.