Man wat 13 keer verkrag, gevonnis

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Man is Donderdag in die hooggeregshof in Klerksdorp, Noordwes, twee lewenslange vonnisse opgelê en tot ’n bykomende 293 jaar tronkstraf gevonnis.

Dit kom nadat 23 verskillende aanklagte teen hom aanhangig gemaak is, waaronder 13 vir verkragting, agt vir roof met verswarende omstandighede, een vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en een vir aanranding.

Hy het skuld op al die aanklagte beken.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Lucky Lehloo het tussen November 2014 en Julie 2018 die misdrywe in die Tshing-nedersetting in Ventersdorp gepleeg. Hy is deur middel van DNS-monsters met dié misdrywe verbind.

“Volgens bewyse het Lehloo by sewe van die slagoffers se huise ingebreek en hulle van hul selfone en geld beroof voordat hy hulle verkrag het,” sê Mamothame.

Een van die slagoffers was ’n 73-jarige vrou, wat in Januarie 2020 dood is.

“Vyf van sy slagoffers het hy op straat oorval en met ’n mes gedreig. Hy het hulle in die bosse ingesleep en verkrag voordat hy hulle beroof het.

“By een van die voorvalle het Lehloo na ʼn huis gegaan waar hy ʼn 15-jarige meisie aangetref het en haar bedrieg het om te glo dat haar ouma hom gestuur het om in die tuin te werk. Sy het die tuingereedskap aan hom verskaf, maar hy het later by die huis ingestap en haar verkrag.”

Die staatsaanklaer, adv. Riekie Krause, het ter verswaring van die vonnis die hof gevra om die belange van die gemeenskap in ag te neem wanneer die vonnis opgelê word.

Regter Andre Petersen het met die staat saamgestem en die tol wat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in die land eis, benadruk. Hy het bygevoeg dat die howe ʼn verantwoordelikheid het om op sulke ernstige oortredings te reageer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Nou vra ek hoe kry hy dit reg, so lank buite. Is oor Hoed gepla is met homself en niks anders nie. Hulle moet die karakter vir ons gee dat ons n voorbeeld maak van hom.

melaney ·

Matteus 5 vers 29: “As jou regter oog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom weg.” So ook die res wat pla.

Sarel ·

Sien niks van ” Geen Parool ” nie…so hy sal miskien
Kwart van vonnis uitdien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.