Mantashe se raad aan nuwe ANC-leierskap

Gwede Mantashe, uitgaande sekretaris-generaal, en Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, Maandag by die nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg. Foto: Twitter via @MYANC

Gwede Mantashe, uitgaande sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag raad gegee aan die nuwe nasionale uitvoerende komitee (NUK) en regeringsamptenare van die regerende party, en gesê die ANC is nie immuun daarteen om deur dinge wat in die regering gebeur, geaffekteer te word nie.

“Julle moet daarteen waak. Die ANC is ʼn rigtingaanwyser in die samelewing en ons moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Enigiets wat in die regering gebeur, het ʼn impak op die ANC,” het Mantashe gesê.

Hy het gesê die ANC moet sy verantwoordelikheid hervat om die leier van die samelewing te wees na wie die Suid-Afrikaanse bevolking vir rigting kyk.

Mantashe het sy laaste organisatoriese verslag by die ANC se 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg gelewer. Hy het gesê dié verslag het die nuwe NUK van die party terugvoer gegee oor elke probleem wat die party in die gesig staar, insluitend Nkandla, die openbare beskermer se verslag, die konstitusionele hof se beslissings en die posisies wat die ANC oor die afgelope vyf jaar ingeneem het.

“Die sentrale deel van die boodskap was dat as die ANC nie beslissend is oor ʼn kwessie nie, daar ʼn vakuum vir leierskap in die samelewing gelaat word. Die ANC moet in staat wees om standpunt oor enige kwessie in te neem, maak nie saak hoe pynlik dit is nie,” het Mantashe gesê.

“Ons het in die besprekings [by die konferensie] deur al die moeilike kwessies gegaan waarmee ons gekonfronteer is, of dit nou die Nkandla-saak was, die openbare beskermer se verslag, ʼn uitspraak deur die konstitusionele hof of die huidige debat oor staatskaping. Die ANC moet ferm besluite neem en leierskap vir die samelewing gee. As die ANC twyfel, veroorsaak dit ’n gebrek aan leierskap in die samelewing, en enigiemand kan dan opstaan en die samelewing in enige rigting in lei.”

Mantashe is deur 1499 takke vir die posisie van nasionale voorsitter benoem, teen Nathi Mthethwa wat deur 807 takke benoem is.

Mantashe het ook advies gehad vir sy opvolger as sekretaris-generaal, ʼn posisie wat hy twee termyne lank beklee het. “Jy moet vinnig op jou voete wees. Moenie kwaad word nie. As lede op jou skree; jou beledig, moenie kwaad word nie. Die media sal jou deur die modder sleep. Tel die foon op, bel daardie joernalis en praat met hulle,” het hy gesê.

Senzo Mchunu, die voormalige premier van KwaZulu-Natal, en Ace Magashule, die premier van die Vrystaat, is benoem vir dié posisie.

Mantashe het aan verslaggewers belowe hy sal die nuwe ANC sekretaris-generaal aan hulle kom voorstel sodra die verkiesingsuitslae bekendgemaak is. “Ek gaan die nuwe sekretaris-generaal vir julle bring. Wat julle vir hom sê het niks met my te doen nie,” het hy gesê, wat ʼn gelag van die media ontlok het.

Die ANC het omstreeks 12:00 Maandag op Twitter bevestig dat die stemproses afgehandel is. Die stemme word nou getel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Kon julle verstaan wat hy se. Of is dit soos n voorskrif wat jy by n dr kry en nie kop of gat kan uitmaak wat daar staan nie maar gee dit vir die apteker hy kan handskrif ontleed

Mark Mac ·

Ha Ha Ha Ha Ha HaHa Ha Ha Ha Ha Ha !!!

Rerigwaar..??? “Leier”? “kyk vir rigting”? Sopas bietjie in my mond gebraak.

John ·

Die grootheidswaan van die’ glo bevrydingsorganisasie is erger as erg. Matashe kon nie ophou praat nie… miskien moet hy ook sy boek skryf dan kan sy waaiers betaal vir die lyding… en dit weer en weer lees en lees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.