Mashatile by OB verkla

Paul Mashatile (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Rise Mzansi het ʼn sterk vermoede dat Paul Mashatile die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag oortree het.

Die nuwe politieke party het Dinsdagoggend ʼn skrywe aan die waarnemende Openbare Beskermer, adv. Kholeka Gcaleka, gerig om hierdie moontlikheid te ondersoek.

ʼn Storm het die afgelope naweek om die kop van die adjunkpresident losgebars nadat News24 ʼn onthullende berig gepubliseer het waarin beweer word dat Mashatile ʼn luukse leefstyl handhaaf danksy sy bande met sakelui wat groot voordeel trek uit staatskontrakte.

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, sê die adjunkpresident het hom op sigwaarde skuldig gemaak aan ernstige oortredings van minstens die Grondwet, sy ampseed én die etiekwetgewing.

Ingevolge die Grondwet mag die adjunkpresident nie op enige wyse optree wat strydig met sy amp is, of homself blootstel aan enige situasie wat die moontlikheid van ʼn botsing inhou tussen sy amptelike verantwoordelikhede en private belange; of sy posisie of enige inligting aan hom toevertrou gebruik om homself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie.

Die wetgewing bepaal ook dat die OB enige beweerde oortreding van die etiekkode moet ondersoek en binne 30 dae ʼn verslag aan die president moet voorlê.

“Adjunkpres. Mashatile kan verkeerdelik en arrogant glo dat hy nie aan die media verantwoording hoef te doen nie, maar hy sal binnekort uitvind dat die OB nie die dieselfde verdraagsaamheid vir oortredings van die wet en basiese demokratiese beginsels toon nie,” sê Zibi.

Luidens News24 se berig het Mashatile tot onlangs gereeld tuisgegaan in ʼn luukse woning van Edwin Sodi, die man wat tans saam met Ace Magashule teregstaan op aanklag van korrupsie en bedrog in verband met die Vrystaatse asbestendersaak van R255 miljoen.

Volgens die berig het Sodi – volgens die Zondo-kommissie – boonop betalings aan die ANC direk aan Mashatile gedoen. Daar is glo 15 betalings van altesame R371 553 tussen Februarie 2015 en September 2016 gedoen. Sodi het getuig dat die betalings vir die ANC bedoel was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

TheSnake ·

As mens die nuus oop maak, is dit of ‘n plaas moord of ‘n politikus wat weer bedrog gepleeg het, of liewer, nog steeds.

Lourens ·

“Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, sê DIT KOM VOOR ASOF die adjunkpresident het home skuldig gemaak HET aan ernstige oortredings . . .”
Daar’s hy nou. Ordentlike Afrikaans – nie woordelikse vertalings nie.

Casper ·

Die tyd het vir hom aangebreek om ook ‘n bietjie te eet uit die geld trog of eet hy al lankal.Rampie sal hom beskerm.

Althes ·

Skandale op skandale, maar die komrades bloos nie eens nie. Arrogansie kom tot ñ val

Nonnie ·

Ek reken die anc regering is die GROOTSTE KRIMINELE ORGANISASIE IN DIE HELE WÊRELD…..????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.