Medelye stroom in ná burgemeester sterf aan Covid-19

Henry Jansen, Langeberg-munisipaliteit se burgemeester (Foto: Alan Winde Facebook)

Medelye stroom in vir Henry Jansen, die Langeberg-munisipaliteit se burgemeester, wat Dinsdagaand in Worcester se Mediclinic in die Wes-Kaap sy stryd teen Covid-19 verloor het.

Jansen (63) was sedert 26 Junie in die hospitaal waar hy hoofsaaklik vir longontsteking behandel is.

“Dit is met ʼn swaar hart dat ons afskeid van ons burgemeester moet neem,” lui ’n inskrywing op Twitter deur die Langeberg-munisipaliteit. Die munisipaliteit vorm deel van die Kaapse Wynland-distrik.

Bongikosi Madikizela, die DA se provinsiale leier, het sy innige simpatie met Jansen se familie, vriende en kollegas betuig.

“Die DA in die Wes-Kaap is hartseer oor die dood van Jansen. Hy is in 2001 tot onderburgemeester van die Wynland-distriksmunisipaliteit verkies. In 2016 is een van Jansen se lewenslange drome verwesenlik toe hy tot burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit verkies is,” sê Madikizela.

Clara Meyer, die speaker van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het gesê haar hart is gebreek oor Jansen se heengaan. “Hy was ʼn familieman. Hy het die ekstra myl gegaan om die Kaapse Wynland op die kaart te sit. Hy het ʼn hart van goud gehad,” sê Meyer.

Meyer sê saam met Jansen het hulle gemeenskappe bygestaan en gesorg dat mense kos, doeke, sanitêre doekies en meer het. “Ons sou elke vakansie ons gemeenskap se vroue en jeug op ʼn uitstappie neem,” vertel Meyer.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het ook sy skok oor Jansen se skielike dood uitgespreek.

Mark Jansen, die direkteur van verkeersveiligheidsbestuur in die Wes-Kaap (Foto: Verskaf)

Jansen se jarelange vriendin, Queeny Madikizela-Malema, het hom beskryf as ʼn mens wat baie vir sy gemeenskap opgeoffer het.

“Hy was nooit betrokke by korrupsie nie, maar het standvastig gestaan teen korrupte amptenare en nooit van die armes gesteel nie. Hy was lojaal.

“Hy het joernaliste gehelp wat na sy kantoor gekom het vir borgskappe vir boeke wat hulle wou skryf. Hy sou in sy persoonlike hoedanigheid hierdie skrywers help en bystaan. Hy sou selfs hierdie boeke koop en dit aan lede van die gemeenskap oorhandig vir inspirasie,” vertel Madikizela-Malema.

Mark Jansen (53), die direkteur van verkeersveiligheidsbestuur in die Wes-Kaap, het Woensdag ook aan Covid-19 gesterf. Hy het by die verkeersdepartement in 2003 aangesluit. Jansen het twee kinders gehad.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het sy medelye met Jansen se familie, vriende en kollegas betuig. “Daar is nie woorde om die verlies van ’n geliefde te beskryf nie,” sê Africa.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.