Misdadigheid binne vervoerstelsel dringend gepak

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het ʼn voorlopige verslag bekend gemaak oor alles wat hy meen fout is met die land se vervoerstelsel.

Ondersoek is ingestel na onder meer voertuigregistrasies en -lisensiëring, die toets en uitreik van padwaardigheidsertifikate en rybewyse, asook ʼn gepeuter met of manipulasie van die nasionale verkeersinligtingstelsel (e-Natis).

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Maandag gesê bewerings dat amptenare by toetssentrums met bestuurskole saamspan om die uitreik van rybewyse op onderduimse manier te bewimpel, was ook onder die redes vir die ondersoek.

Die SOE het verskeie oorsake van sistemiese en bedryfsprobleme wat tot korrupsie en wangedrag aanleiding gee, in sy verslag uitgewys.

Luidens die verslag gee die desperate behoefte aan rybewyse, padwaardigheidsertifikate en registrasiedokumente aanleiding tot bedrog. Korrupte amptenare en misdadige middelmanne buit ook swak plekke in die stelsel uit, terwyl daar boonop nie behoorlike monitering van die stelsel deur die relevante owerhede is nie.

Daar is ʼn gebrek aan bestuur en oorsig, ʼn gebrek aan standaardbedryfsprosedures, geen prestasiestandaard waaraan amptenare moet voldoen nie en hebsug wat onreëlmatighede en misdaad aandryf.

Nog een van die probleme wat die SOE uitgewys het, is die gebruik om uitstaande verkeersboetes op die naam van oorlede motoriste oor te dra en bestuurskole wat amptenare omkoop om lisensies bedrieglik of wederregtelik uit te reik.

In sommige gevalle word padwaardigheidsertifikate ook uitgereik sonder dat ʼn voertuig hoegenaamd ʼn toets ondergaan het.

Die SOE het tydens die ondersoek reeds heelwat vordering gemaak. Dit sluit in:

  • 99 skulderkennings of skulddokumente wat onderteken is, ten bedrae van meer as R45 miljoen
  • die herwinning van sowat R3,8 miljoen danksy die ondersoek
  • beslaglegging op 375 voertuie wat onwettig ingevoer is
  • die verwys van 190 000 rybewyse vir moontlike opskorting
  • verwysing van 44 sake na die Nasionale Vervolgingsgesag vir moontlike vervolging
  • 128 verwysings vir tugstappe of ander optrede
  • 86 inhegtenisnemings vir bedrog/diefstal
  • ses inhegtenisnemings vir 10 000 onwettige transaksies wat tot ʼn verlies van R60 miljoen vir die staat gelei het

“Pres. [Cyril] Ramaphosa het benadruk dat daar geen ruimte vir korruptes in ons regering is nie. Saam met wetstoepassingsowerhede maak ons vordering om van wangedrag en korrupsie ontslae te raak,” sê Mbalula.

Hy sê daar is die afgelope jaar saam met die onderskeie LUR’e en die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsagentskap (Salga) saamgewerk om verskeie ingrypings in werking te stel en sleuteloorsake van sistemiese en operasionele probleme te pak.

Van die ingrypings sluit in die bekendstelling van aanlyn dienste en aanlyn betalings en die sentralisering van besprekingstydgleuwe vir dienste.

Die parlement het verlede maand ook wetgewing goedgekeur wat onder meer tot beter regulering van bestuurskole sal lei. Mbalula sê die wetsontwerp gaan dit makliker maak om die korrupsie te pak wat die voertuig- en rybewysstelsel “beduiwel”.

“Die voorkoms van misdadigheid wat wissel van die kloon van voertuie tot die bedrieglike uitreik van lisensies is ʼn saak van kommer wat op die hoogste vlak aandag kry,” sê die minister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietertjie ·

Siestog. Is dit weer verkiesingstyd? Hulle betaal seker maar swaar aan al die braaihoender-pakkies, vandaar die toename in leë beloftes.

wiesalweet ·

Volgens Ramaphosa is daar geen ruimte vir korruptes in die regering nie ….
Wat soek al die Ministers, die president inkluis, dan nog daar???

JohanR ·

Die nuttelose minister, en al die ministers voor hom en die hele ANC is wat ie verkeerd met SA se vervoer stelsel. ALLES in die land sal eers begin regkom waaneer die ANC ge@Voertsak het!

domheks ·

Fikile Mbalula, minister van LEE BELOFTES! en liegstories,

Marelize ·

Fikile jong jy was nou al minister van soveel verskillende departemente deur die jare. Is dit ‘n kwesie van Jack of all trades and master of none !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.