Mkhize straks nog vervolg oor Digital Vibes-kontrak

Dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die voormalige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, kan steeds strafregtelik vervolg word vir sy rol in die toekenning van die omstrede Digital Vibes-kontrak.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) Woensdag op die hoogte gebring van die vordering met sy ondersoek.

Adv. Andy Mothibe, hoof van die SOE, het aan Skoor gesê Mkhize se bedanking sal nie die ondersoek raak nie en dat bewyse gevind is wat dui op misdadige optrede.

Mkhize het glo druk op amptenare geplaas om die kommunikasiekontrak ten bedrae van R150 miljoen aan Digital Vibes toe te ken. Die voormalige minister het noue bande met diegene aan die stuur van die maatskappy.

Intussen is die SOE se verslag oor die ondersoek, wat meer as ʼn maand gelede al aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is, steeds nie bekend gemaak nie.

Philip van Staden, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, sê die portefeuljekomitee oor gesondheid het kort daarna gevra dat die verslag aan die komitee beskikbaar gestel word. Die inhoud van die verslag sou dan bepaal of die komitee ʼn vergadering met die SOE ook moet aanvra.

Van Staden sê dit is onseker of ʼn opdrag hieroor ooit uitgevoer is.

“Dit is uiters noodsaaklik dat hierdie verslag nou dadelik beskikbaar gestel word. Die vertraging van die proses is straks ʼn aanduiding dat die verslag inligting bevat oor meer prominente persone wat by die korrupsieskandaal betrokke is as wat aanvanklik vermoed is en dat dit dalk hoë ANC-lede kan insluit.

“Die VF Plus gaan nie verdere verskonings aanvaar dat die president se proses nog aan die gang is en dat mense wat in die verslag geïmpliseer word, eers die geleentheid gegun moet word om hul kant van die saak te stel nie.”

Hy sê daar was reeds ruim kans hiervoor.

“ʼn Voorbeeld is Zweli Mkhize wat drie geleenthede gehad het om sy saak te stel en dit elke keer van die hand gewys het,” sê Van Staden.

“Die VF Plus sal nie toelaat dat hierdie saak onder die mat ingevee word nie. Pres. Ramaphosa se weerhouding van die verslag van die publiek en die parlement is onaanvaarbaar en laat talle rooi ligte flikker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Malan ·

Was daar dan ‘n stadium wat daar oorweeg is om hom nie te vervolg nie?

Persheks Adri ·

Natuurlik gaan Cyril vir hom “cover” hulle is dan maats en kaders wat mooi weet wat in die koffers aan gaan man! Vervolg die hele lot

Johann ·

Eers was daar die ZUMAIKIE klub. Nou is dit die CEROLIANS. SELLE SELLE.

Mariana ·

Hy moet vervolg word. Tyd vir al hierdie korruptes om vervolg te word.

Dup ·

Die Engelse noem dit:”Honour among thieves”.
Hulle sal mekaar tot in die graf in beskerm.

Jr ·

Die engelse spreek sin is eintlik ” There is no honour amongst thieves. Laat net een begin praat.

Frank ·

Ramaposa is die swakste president wat Suid Afrika ooit gehad het. Hy moet van hoogverraad aangekla word.

Johanncb ·

Nog nóóit was daar in ons land soveel skandalige bedrog soos nóú nie! Dan wil die regering ons met nóg 8 na 12% belas om méér te bedrieg!

SjN ·

En oompie Cyril het hom so hoog aangeslaan, erken jou fout en laat hy boet, hy was oneerlik.

Jr ·

Die VF sê en sê en sê en sê en sê – blah blah blah. Gee dit vir Afriforum en Soladariteit hulle sal iets daadwerklik doen daaraan. Wens hulle sal registreer as party sodat ek vir hulle kon stem

KhoiKhoi ·

Onthou net.
Net soos wat die anc die vorige apartheidsregering gekritiseer het, is rasse skeiding en verder stam skeiding deel van hul beleid.
Zuma het KZN “huis” toe gebring.
Hy is nie meer daar nie.
Mkhize is ‘n “token” en as Ramaphosa hom soos ‘n warm aartappel weggooi is KZN – die sterkste anc provinsie – in gevaar.
Wesenlike uitwerking landswyd

Elinette ·

So, hy het bedank … ek neem aan hy sal gerieflikheidshalwe êrens elders “her-ontplooi” word en dat hy nie sy voordele, soos pensioen en medies wat ten dele deur die belastingbetaler gefinansier word, hoef in te boet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.