Mkhize verwelkom SOE-ondersoek na tender

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na die Digital Vibes-kontrak verwelkom en gesê bewerings van enige vorm van korrupsie moet ondersoek word.

Twee vertrouelinge van Mkhize, sy jarelange persoonlike woordvoerder en sy voormalige privaat sekretaris, het na bewering voordeel getrek as konsultante van ’n kontrakteur wat deur die departement van gesondheid aangestel is.

Digital Vibes is glo in die bestek van nege maande meer as R82 miljoen betaal om Covid-19-dienste aan die departement te lewer.

Volgens Mkhize is hy in Januarie deur die direkteur-generaal van gesondheid ingelig dat die ouditeur-generaal spesifieke bevindings gemaak het oor afwykings wat geïmplementeer is en dat dit onreëlmatig is.

“Hy het my ingelig dat hy besluit het om die kwessies en die kontrak verder te ondersoek ten einde te verseker dat die departement nie onreëlmatige tenders in plek het nie.” Volgens Mkhize het hy versoek dat met ’n eksterne ondersoek voortgegaan word weens die departement se gebrek aan vermoë om dit intern te doen.

“Ons waardeer en ondersteun die ondersoek, aangesien, as deel van aanspreeklikheid, skoon bestuur en die nakoming van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en tesourieregulasies, die departement moet kyk na bewerings oor onreëlmatighede en nienakoming wat onder ons aandag gebring is deur middel van ’n ouditbevinding of fluitjieblasers.”

Mkhize het die SOE se voorneme om die bewerings te ondersoek, verwelkom. “Dit is deel van die verbintenis wat ons gemaak het dat bewerings van enige vorm van korrupsie ondersoek moet word.”

Die uitkoms van die ondersoek sal aan die publiek bekend gemaak word, het Mkhize verseker.

Die departement het Digital Vibes glo reeds einde 2019 aangestel om kommunikasiedienste vir die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te lewer. Die omvang van die maatskappy se werk is in Maart verlede jaar uitgebrei om Covid-19-kommunikasiedienste in te sluit.

Dieselfde maatskappy het ook in 2018 ’n kontrak van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gekry toe Mkhize destyds dié departement gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Diefstal en korrupsie het endemies geword in die land; geen wonder dat Suid-Afrika flink oppad na bankrotskap is nie! Dit hou net nie op nie!

Nie Verbaas ·

Ag ons hoef nie eers te raai wat gaan gebeur nie. Soos al die ander korrupsie met huidige uitverkorenes sal dit net toegesmeer word. ANC is sekere die mees voorspelbare party in die wereld. Korrupsie 100%, integriteit 0%.

Grassie ·

Maar net nog ‘n vrot appel in die vaatjie. Ek weet dit is ‘n anglisisme maar dit is paslik hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.