Modelbaas dán gevonnis

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Die voorvonnisverrigtinge in die saak teen die Kempton Parkse modelbaas, Dawie de Villiers, is Woensdag tot Februarie uitgestel.

De Villiers het Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg voor regter Isabel Mlaba verskyn. Regter Cassim Moosa, wat die verhoor aangehoor het, was nie beskikbaar nie.

Adv. Arveen Persad, die staatsaanklaer, het versoek dat die saak tot 11 Februarie uitgestel word en Mlaba het dié versoek toegestaan. Argumente ter versagting en verswaring van vonnis sal na verwagting dan aangehoor word.

De Villiers, die stigter van Modelling South Africa (Pty), is in Februarie 2017 skuldig bevind aan verkragting, seksuele aanranding, seksuele gereedmaking, bedrog, dat hy kinders aan pornografie blootgestel het en toegang gehad het tot kinderpornografie.

De Villiers het op 5 Oktober 2015 die eerste keer in die hooggeregshof in Palm Ridge verskyn. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy ʼn 14-jarige meisie in 2011 in Rustenburg gemolesteer het en ʼn 15-jarige meisie van Kempton Park verkrag het.

Nog ʼn aanklag teen De Villiers het verband gehou met ʼn voorval tussen 2006 en 2007 in Alberton toe ʼn volwasse vrou seksueel aangerand is. Hy het ook in 2008 SMS-boodskappe aan ʼn minderjarige gestuur waarin hy eksplisiete seksuele versoeke aan haar rig. Van die 38 aanklagte was 11 vir bedrog en diefstal van meer as R200 000.

Die staat en die verdediging het einde verlede jaar hul betooghoofde ingedien ter voorbereiding van die voorvonnisverrigtinge. De Villiers het einde verlede jaar tydens ʼn hofverskyning gesê hy het geen berou oor sy dade nie aangesien hy onskuldig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karl ·

Gaan lees bietjie wat die lot mans sê op die nuwe artikel van 30% wat geteister word, hul sal hier ook seker sê dis om dat hul so aantrek.

Daan Erasmus ·

Die wiele van geregtigheid draai heeltemal te stadig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.