Moordondersoek kom ná dood van Zoeloeprins

Koning Goodwill Zwelithini (Foto: Sibonelo Ngcobo, ANA)

Die Gautengse polisie het Maandag bevestig dat hy nou ʼn saak van moord ondersoek nadat koning Goodwill Zwelithini se seun dood in ʼn woonstel in Randburg aangetref is.

Lethukuthula Zulu (50) se liggaam is Vrydag gevind.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn moordsaak ondersoek word.

“Die ondersoekdossier is Vrydagmiddag by die Honeydew-polisiestasie geopen om die omstandighede rondom Zulu se dood te ondersoek. Die dossier is daarna na ’n moordsaak verander op grond van voorlopige getuienis van die aanvanklike ondersoek,” sê Peters.

“Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van sy dood bevestig.”

ʼn Saak van diefstal word ook ondersoek nadat ʼn aantal waardevolle items en ʼn onbekende bedrag kontant na bewering uit Zulu se woonstel gesteel is.

Zulu was die Zoeloekoning Zwelithini en sy vrou Sibongile MaDlamini se oudste seun.

Velenkosini Hlabisa, leier van die Inkatha-vryheidsparty (IVP), het namens die party sy skok oor Zulu se skielike dood uitgespreek.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het ook haar innige simpatie betuig.

“Die verlies van ʼn geliefde is altyd tragies, veral as dit iemand se kind is,” sê Dlamini-Zuma.

Reëlings vir die begrafnis sal eersdaags bevestig word.

Enigiemand met meer inligting oor die saak kan Stop Misdaad by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maggies ·

Die onnatuurlike verlies van ‘n seun, ongeag van kleur, koninklik of boer is altyd ‘n tragedie. ‘n Ouer se hart breek.

Casper ·

Maggies,so in die kol.Alle lewensverliese aan die hand van moordenaars is tralies.Ma met die doek,voel jy so oor plaasmoorde ook.Daar word jong boere vermoor wat hierdie land van kos voorsien.Nee ma kopdoek daaroor praat julle nie.

Annette ·

Elke moord is tragies! Die bose seëvier – maar daar kom `n dag van vergelding. “Die verlies van ʼn geliefde is altyd tragies, veral as dit iemand se kind is,” sê Dlamini-Zuma.” Elke een op hierdie aarde is “iemand se kind”, al leef die ouers nie meer nie. Die onnatuurlike verlies van elke lewe is tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.