Moskee-aanval: Sakeman kry borgtog

Gewapende mans het aanbidders in die Verulam-moskee in Mei vanjaar aangeval en een om die lewe gebring en twee gewond. Foto: Doctor Ngcobo/ANA

ʼn Sakeman onder die 19 verdagtes wat in hegtenis geneem is vir hul beweerde aandeel aan die plasing van plofstof by verskeie Durbanse winkelsentrums asook die moord in ʼn plaaslike moskee, is op borgtog vrygelaat.

Die staat het ook die aanklagte teen sewe ander verdagtes in die saak voorlopig teruggetrek. Goolam Haffajee is Maandag in die Verulam-landdroshof op borgtog van R100 000 vrygelaat. Haffajee is op borgtog vrygelaat aangesien hy nie tydens ʼn identiteitsparade uitgewys is nie.

Volgens sy borgtogvoorwaardes mag hy nie KwaZulu-Natal verlaat nie en moes hy sy paspoort inhandig.

Maandag se hofverrigtinge is ook uiteindelik aan die media oopgestel nadat verslaggewers verlede week nie toegelaat is om die hof binne te gaan nie en die vensters van die hof verdonker is.

ʼn Klein groepie betogers het voor die hof bymekaargekom met plakkate wat gelui het “Geen borgtog vir terroriste” en “Geen plek vir godsdienstige ekstremisme in Suid-Afrika”.

Die verdagtes is op 5 Oktober in die Durban-omgewing aangekeer deur ʼn span wat bestaan het uit die Valke se eenheid vir misdade teen die staat, misdaadintelligensie, die forensiese eenheid en die nasionale vervolgingsgesag.

Tydens klopjagte op talle huise in die omgewing van Durban is beslag gelê op verskeie items, onder meer ʼn toestel wat as brandbom gebruik kan word.

Die verdagtes staan onder meer tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, oortreding van die plofstofwet, afdreiging en die onwettige besit van vuurwapens.

Die verdagtes staan ook tereg op aanklag van ontvoering nadat die polisie tydens ʼn klopjag op een van die huise ʼn ondervoede man gevind het wat in ʼn kelder vasgeketting was.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

pbotha ·

Geen borg vir hierdie rakker nie… gevaarlik en onvoorspelbaar as iemand so ekstremisties raak.

Johanna Botha ·

Wat ek nie verstaan van die geloof nie is dat lande waar hulle is soos Sirie altyd met konflik en lewensverlies te make het .. wat is dit met die mense dan ?

marous ·

Hy is op borg uit omdat hy nie uitgewys kon word nie ? Die klagtes teen die ander is teruggetrek ? Dit beteken daar is nie voldoende getuienis om te vervolg nie , maar die NVG foeter net voort .

Cherokee ·

19 Is gearresteer. 1 is op borg en die saak is voorlopis teen 7 ander teruggetrek. ‘n Logiese gevolgtrekking is dat 11 steeds in aanhouding is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.