Mynaansoek by Krugerwildtuin gestuit

Dele van die Krokodilrivier gaan besoedel word indien daar gemyn word (Foto verskaf)

Die beoogde steenkoolmyn wat deur Manzolwandle Investments op die voorstoep van die Nasionale Krugerwildtuin beplan is, is Dinsdag gestuit.

Die departement van minerale bronne en energie het op 28 Oktober hul dokument van teenkanting aan Manzolwandle Investments gestuur en die maatskappy moes binne 14 kalenderdae alle belanghebbende en geraakte partye in kennis stel.

Maroela Media het vroeër berig Manzolwandle Investments wou die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 hektaar digby die Krugerwildtuin begin. Organisasies soos AfriForum het verlede jaar hul stem dik gemaak teen die ontwikkeling van die myn omdat dit enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite sou inhou.

AfriForum glo ook dat Mpumalanga as toeristebestemming ook ekonomies in duie kan stort as daar met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word.

AfriForum het verlede jaar Junie strafregtelike klagte ingedien by die Komatipoort-polisiekantoor omdat Singo Consulting plagiaat, bedrog en vervalsing in hul omgewingsimpakstudie gepleeg het. Dit was genoodsaak nadat dit onder AfriForum se aandag gekom het dat die maatskappy ander omgewingskonsultante se omgewingsimpakstudies in hul verslag geplagieer het.

Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum, sê dit is ’n groot sukses vir alle gemeenskappe waar onwettighede en ongerymdhede tydens mynaansoeke plaasvind.

“AfriForum sal die situasie daar moniteer en ook by soortgelyke sake betrokke raak, sou dit nodig wees,” sê De Klerk.

Volgens De Klerk sal verdere ondersoek ingestel word oor waar die twee maatskappye fisiek geleë is. Die een maatskappy se geregistreerde adres dui op ’n oop stuk veld.

“Die vraag moet gevra word, ongeag van die ongerymdhede wat reeds bestaan, hoe só ’n mynmaatskappy aansoek doen vir ’n mynlisensie as ’n mens hulle nie eens kan besoek by ’n adres nie,” sê De Klerk.

De Klerk het ook gewys op ’n onlangse uitspraak van die appèlhof teen die departemente van omgewingsake en van minerale hulpbronne se goedkeuring dat Atha-Africa Ventures met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voortgaan.

Die departemente het die aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl die gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind die ministers se proses was nie deursigtig nie en dat die besluit oorhaastig geneem is.

“Dit wil voorkom asof daar al hoe meer sulke vergrype in die land voorkom en AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynbedrywighede die land verwoes nie.”

Die organisasie het sy #BewaarOnsNatuur-veldtog van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk ·

Afriforum en die Solidariteit Beweging is tans ons behoud en steunpilare

Mad Mike die Rhodesiër ·

A nee a! Moenie met Moeder Natuur mors nie! Ons wil die wild in die Kruger Wildtuin nog jare lank besigtig.

Joggie ·

Hoe kan hulle die comrades se vinnig-ryk-word skema net stop! Almal moet geleentheid kry om te plunder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.