Ná valse bewerings word beampte geloof wat baba help

(Foto via Wouter de Vos/Facebook)

ʼn Verkeersbeampte wat op sosiale media gekap is toe ʼn foto van haar met ʼn baba op haar rug gedeel is, word nou geloof nadat die werklike omstandighede onthul is.

Die foto is ongeveer ʼn maand gelede op sosiale media gedeel en gebruikers het hul mond uitgespoel oor die verkeersbeampte.

Wouter de Vos, ʼn raadslid in die Kaapstad-munisipaliteit, sê talle kommentare was baie onbeskof en haatdraend. “Mense het dinge gesê soos, ‘lekker om jou kind werk toe te vat, nè …”

Omdat sy ʼn Kaapstad-verkeersbeampte is, het De Vos onderneem om ondersoek in te stel.

“Hier is die feite. Die baba se ma is beseer in ʼn motorongeluk en was in die voertuig vasgekeer. Hierdie wonderlike beampte, Andisiswe Gxabuza, het besluit om self na die kosbare babatjie om te sien onder moeilike en traumatiese omstandighede, terwyl sy met haar pligte voortgegaan het,” sê De Vos.

Hy sê dit is presies die tipe toewyding wat wonderlike beamptes sal toon. “Dit is die toonbeeld van ons Kaapstad as ʼn stad wat omgee.”

Kaapstad se portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit het vandeesweek seker gemaak dat Gxabuza die erkenning en respek vir dié optrede ontvang.

“Beampte Gxabuza, ek salueer en respekteer jou! Ek vra dat mense hierdie storie sal deel om seker te maak dat die feite versprei word en om seker te maak dat ʼn held die erkenning en respek kry wat sy verdien.”

(Foto via Wouter de Vos/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Africangrey ·

Baie dankie vir jou omgee Andisiswe, jy het reg opgetree, en verdien erkenning ipv afbrekende kritiek. Jy is n wonderlike mens!!!

Maryna ·

Dis omdat mense altyd baie te se het voor hul feite het. Well done Andisiswe, ons het meer mense soos jy nodig in uniform!

Juanita ·

Solank ons Suid-Afrikaners kan oordeel en sleg praat van hul medemens sal hul gelukkig wees. Hul leef vir drama en sensasie ongeag die feite en omstandighede.

christo ·

Die SAPD het in my buurt gereageer op ‘n gesinsgeweld klag gedurende die Covid-pandemie Dit was ‘n adjudant-offisier en ‘n vroue konstabel. Toe die situasie onder beheer gebring is, het die moederinstink by die konstabel oorgeneem en gesorg dat iemand in die gemeenskap na die tjokkertjie kyk vir die nag, aangesien die hele gesin onder die invloed was ( behalwe die kleutertjie). Ons is geneig om al die SAPD lede oor dieselfde kam te skeer, want daar is baie wat nog hulle werk deeglik doen.

Sean ·

Dis mos nou iets moois om te sien Daar is nog goeie mense in die lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.