Natuurreservaat binnekort weer oop ná brand

(Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

Die Helderberg-natuurreservaat in Somerset-Wes sal op 1 Augustus 2022 weer vir die publiek oopgemaak word. Die reservaat was die afgelope maand gesluit weens ʼn onlangse verwoestende brand.

Eddie Andrews, adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, bedank inwoners vir hul begrip terwyl die biodiversiteitspan van die geleentheid gebruik kon maak om aandag te gee aan dringende erosiewerk en om seker te maak infrastruktuur, soos heinings en die piekniekarea, is weer veilig vir publieke gebruik.

“Ons het die opening vir 1 Augustus geskeduleer. Die publiek sal na verwagting in daardie stadium weer veilig sekere dele van die berg kan besoek.”

Andrews bedank ook Friends of Helderberg wat baie tyd en hulp aangebied het tydens die opruimingsoperasies.

“Opruiming ná die brand, herstelwerk aan dele waar erosie plaasvind ná die swaar reën en die herbou van gebrande staproetes duur voort. Daar sal egter reeds ʼn aantal roetes vanaf 1 Augustus beskikbaar wees en besoekers sal dit dadelik kan gebruik. Tydelike roetemerkers is al langs die roetes geplaas wat as veilig beskou word vir publieke gebruik. Alle puin en gebrande infrastruktuur is ook uit dié roetes verwyder.”

Andrews maan besoekers om slegs die roetes te besoek wat vir gebruik beskikbaar gestel is en om nie enige ander roetes in die veld te besoek nie. “Vermy asseblief gewilde roetes wat steeds gesluit bly sodat ons spanne hul werk op dié roetes ongehinderd kan voortsit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Dankie. Wys jou wat gedoen kan word waar daar ‘n wil is!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.