Net span stywer om smokkelsindikaat

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek. (Foto: Departement van openbare werke)

Drie mees gesoekte verdagtes wat glo aan ʼn sindikaat behoort wat gesteelde voertuie oor die grens na Mosambiek smokkel, is vandeesweek in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. Die drie verdagtes word tans verbind met minstens 52 sake van motorkapings in die noorde van dié provinsie.

Twee van die drie verdagtes is intussen ook aangekla van die moord op ʼn teen-misdaad-aktivis.

Sipho “Juda” Mthethwa was aan die voorpunt in die stryd teen oorgrensmisdaad in die uMkhanyakude-distrik van KwaZulu-Natal voordat hy in Februarie vanjaar buite sy huis doodgeskiet is.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê Thokozani Dlamini (36), Sipho Mhlanga (36) en Xolani Mkhwanazi (28) is vroeër vandeesweek in Empangeni in hegtenis geneem. Twee ongelisensieerde vuurwapens en verskeie patrone is tydens die inhegtenisneming in hul besit gevind.

Die vuurwapens is sedertdien vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit vir misdaad gebruik is.

Die drie verdagtes het reeds vantevore in verskeie howe in die noorde van KwaZulu-Natal verskyn, waaronder die Empangeni-, Emanguzi- en Ngwelezane-landdroshowe op aanklag van moord, ontvoering, motorkaping, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook huisroof.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal daarmee voortgaan om dienooreenkomstig te reageer om te verseker dat hulle misdaad in gemeenskappe soos uMkhanyakude voorkom en bekamp.

“Die taakspan is vol vertroue dat nog inhegtenisnemings uitgevoer en voertuie in die gebied teruggevind sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.