Nóg een vas ná moord op Rustenburgse sakeman

(Foto: Sonnieka Coetzee)

Nog ’n verdagte is vandeesweek in hegtenis geneem in verband met die moord op die Rustenburgse sakeman Ben Gumbi.

Dié 29-jarige verdagte is Donderdagaand in Johannesburg aangekeer.

Kol. Adèle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die verdagte sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Rustenburg verskyn op aanklagte van moord.

Gumbi is op 23 Augustus deur twee mans buite Plato Coffee in Kockstraat doodgeskiet. Gumbi het pas by die koffiewinkel aangekom toe die verdagtes toegeslaan het.

Die verdagtes het van die toneel gevlug, maar hul motor is later verlate op die hoek van Helen Joseph- en Louriestraat gevind.

Sibongiseni Ngubane (33) is in September in hegtenis geneem vir sy beweerde aandeel in die moord op Gumbi.

Maroela Media het vroeër berig Ngubane is op 12 September in hegtenis geneem nadat hy in die hof in Germiston verskyn het waar ʼn afsonderlike aanklag van gewapende roof hom in die gesig staar en hy op borgtog van R3 000 vrygelaat is. Hy het ook ʼn hangende saak teen hom vir die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie in Alberton. Daar is borgtog van R1 000 aan hom in dié saak toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.