Nóg ʼn geldwaarborg vir SAL

Argieffoto

Argieffoto

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het ʼn bykomende geldwaarborg van R6,4 miljard vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) goedgekeur.

“Die bykomende waarborg sal SAL in staat stel om sy jaarlike finansiële state vir 2013/14 te finaliseer en dit moontlik maak vir die lugredery om volgende week Vrydag, op 30 Januarie, sy algemene jaarvergadering te hou,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

ʼn Totaal van R14,4 miljard se waarborge is al aan SAL toegestaan. Die waarborge is nie ‘n oordrag van geld nie, maar laat ‘n entiteit toe om teen dit te leen.

Die nuutste waarborg is aan ses voorwaardes onderhewig. SAL moet onder andere die tesourie binne ʼn maand voorsien van ʼn omvattende implementeringsplan vir sy “90-dae-aksieplan”-ingryping; die lugredery moet ook binne drie maande voorstelle aan die regering voorsien rakende sy netwerkstruktuur, vlootstrategie en die struktuur van die lugredery; en SAL moet ook weekliks verslae aan die Tesourie voorlê.

SAL is een van drie staatsbeheerde maatskappye wat op 12 Desember van die departement van openbare ondernemings na die Tesourie oorgeplaas is nadat Jeff Radebe, minister in die presidensie, gesê het die kabinet is bekommerd oor hulle prestasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.