Nóg ’n uitstel in padwoedesaak  

Buite die Hatfield-landdroshof in Pretoria. Foto: Phillip Bruwer

Die sakeman Hannes Botha se verhoor op aanklag van aanranding is Donderdag vir ʼn derde keer in die Hatfield-landdroshof in Pretoria uitgestel, kwansuis omdat die staat se getuies nie opgespoor kon word nie.

Botha word aangekla van Brendan Matthews se aanranding op 22 Oktober verlede jaar. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ʼn waaksaamheidsopdrag in hierdie saak namens Matthews op. Die staatsaanklaer het die eenheid Donderdag in kennis gestel dat die getuies nie opgespoor kan word nie, en daarom is hy gereed om die saak terug te trek. Volgens die eenheid was die getuies egter in die hof teenwoordig.

Die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, vermoed daar is ander redes waarom die aanklaer bereid is om die saak terug te trek. “Dit het geblyk dat die aanklaer, wat glo voorheen die saak hanteer het, nie met die klaer of getuie gekonsulteer het nie. Hy was eenvoudig swak voorbereid. Dit is ondenkbaar dat die regte en belange van slagoffers van misdaad gehandhaaf en verdedig kan word as aanklaers nie bereid is om harde werk en moeite in te sit nie.”

Die aanklaer het die hof ook Donderdag in kennis gestel dat die senior staatsaanklaer net daardie oggend ʼn bykomende klag van roekelose en nalatige bestuur by die klagstaat gevoeg het. Die byvoeging van die klag het eers gebeur nadat adv. Phyllis Vorster van die privaatvervolgingseenheid die kwessie by die senior staatsaanklaer geopper het. “Hierdie ontwikkeling spreek weer eens van hoe swak sake deur die Nasionale Vervolgingsgesag bestuur word,” sê Bateman.

Die hoof van die privaatvervolgingseenheid, adv. Gerrie Nel, sê hy is geskok oor die aanklaer se optrede. “Na ons mening is dit onbetaamlik en onprofessioneel. ʼn Klag van roekelose en nalatige bestuur is nie eers oorweeg nie, en sonder die toetreding van die senior aanklaer sou dit nie bygevoeg gewees het nie. Dit is kommerwekkend dat die aanklaer die saak wou terugtrek met die getuies teenwoordig. Ongelukkig het dit byna onmoontlik geword om geregtigheid in kriminele howe te kry sonder die hulp van ʼn waaksaamheidsopdrag.”

Matthews beweer hy het op 22 Oktober 2021 vir Botha by ʼn vierrigtingstop in Waterkloof teëgekom waar Botha na bewering versuim het om te stop. Botha het na bewering vir Matthews begin jaag en ʼn soliede sperstreep in die aankomende verkeer oorgesteek om Matthews van die pad af te dwing. Matthews sê Botha het sy voertuig van voor versper, sy oop venster genader en hom in die gesig geslaan. ’n Getuie, wat agter Matthews gery het, het ʼn verklaring verskaf wat die gebeure bevestig het.

Die saak is nou tot 9 Maart uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bertie ·

Mag ek raai: die aanklaer is seker ‘n regstellende aksie-aanstelling?

Herman L ·

Is daar nie ‘n manier om aanklaers wat nie hulle werk doen nie, tot verantwoording te roep nie? Kan hulle maak soos hulle wil sonder dat daar gevolge is?

Pieter9 ·

Hoe hulle (staatsaanklaers/prokureurs ens) hul kwalifikasies verwerf het sal net hulle weet; iewers het ek gelees ‘sometimes All fools are on the same side’… Lalaland se comrades geniet die krip, daar is nie genoeg tyd vir werk ook nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.