Noord-Kapenaar wen Mongoolse Derby

Willemien Jooste en Deirdre Griffith – die gesamentlike wenners van die Mongoolse Derby. (Foto: Equestrianists World Series)

’n Ma van die Noord-Kaap het verlede maand haar gesin op hul plaas tussen Philipstown en Petrusville gegroet en op ’n vliegtuig geklim om aan die Mongoolse Derby in Mongolië te gaan deelneem – ʼn droom wat sy sedert 2019 koester.

Nooit sou Willemien Jooste (38) egter kon raai dat sy as die gesamentlike wenner van die langste en taaiste perde-uithourit ter wêreld sou huis toe keer nie.

Jooste en die Amerikaner Deirdre Griffith het saam die uithourit van ʼn duisend kilometer deur die Mongoolse steppe binne agt dae voltooi. Deelnemers het tien dae, tussen 07:00 en 19:00 per dag, om dié uitmergelende wedren op semi-wilde perde te voltooi.

Deelnemers kies elke 40 km by ’n stasie ’n ander perd voor hulle weer die onherbergsame gebied aandurf.

Willemien Jooste en Deirdre Griffith in Mongolië. (Foto: Verskaf)

Jooste vertel sy en Griffith het mekaar aan die einde van die tweede dag by ʼn stasie ontmoet en besluit om saam te ry. Só sou hulle eindelik saam-saam die eerste plek onder die neuse van Chris Walker en Patrick Heffron – wat sedert dag vier voorgeloop het – wegraap.

Dít terwyl Jooste eers drie jaar gelede besluit het om ernstig te begin perdry.

Sy vertel dat sy in 2019 van die Mongoolse Derby op sosiale media te hore gekom het. Sy kon nie ophou om daaraan te dink nie en het besluit om aansoek te doen om in te skryf.

“Daardie Desember het ek ernstig begin perdry,” onthou sy.

Die Covid-19-pandemie het uitgebreek, maar nie eens dit kon Jooste se planne stuit nie. Sy kon steeds op die plaas perdry, draf en joga doen ter voorbereiding van die derby.

Een van die perde tydens die Mongoolse Derby. (Foto: Verskaf)

Jooste sê sy het wel later besef dat sy nie die regte perde het om mee te oefen nie.

“Ons plaasperde kan ’n goeie dag se skaapwerk doen, maar nie die afstand aflê wat nodig is nie.”

’n Boer in die omgewing het aangebied dat Jooste op sy perde oefen en die perd genaamd Mona het Jooste veral op die Mongoolse Derby help voorberei.

“Sy is ʼn ongelooflike perd. Ek het duisende kilometer op haar geoefen en sonder haar was dit nie moontlik nie.”

Jooste bestempel die Mongoolse Derby as ʼn ongelooflike ervaring. Sy beplan egter nie om dié taai uithourit ʼn tweede keer aan te durf nie. “Ek sal dit net weer doen as ek dit saam met Deirdre kan doen,” spot sy.

Willemien Jooste in Mongolië. (Foto: Verskaf)

“Ons het mekaar gemotiveer en aan die gang gehou. Sy was baie goed met navigasie terwyl ek weer gehelp het om die perde by die verskillende stasies te kies.”

Jooste en Griffith het daagliks sowat 12 ure lank saam op hul perde deurgebring en selfs op die perde gesit en eet. Die twee vroue het ’n reël gemaak dat hulle nie mag sit wanneer hulle by ’n perdestasie aankom nie.

“Die moeilikheid is, as jy sit, dan is dit lekker en dan wil jy nie weer opstaan nie,” skerts Jooste nou.

Mongolië se gasvryheid, vertel dié ma, sal haar ook lank bybly.

“Dis ongelooflik hoe oop en gasvry hulle is.”

Willemien Jooste se foto’s van Mongolië se gasvryheid. (Foto: Verskaf)

Jooste het ses uit die sewe aande by gesinne van Mongolië oornag.

“Jy daag letterlik net daar op in jou vreemde klere, op perde met ʼn nota wat in hulle taal vra: ‘Mag ons asseblief hier slaap’ en hulle gaan uit hul pad uit om jou tuis te laat voel.

“Baie keer het hulle van hul gesinslede by die bure gaan aflaai om genoeg plek vir ons te maak.

“Dit was regtig een van die grootste ondervindings van my lewe.”

  • Die Mongoolse Derby herskep die perdeboodskapperstelsel wat in 1224 deur Genghis Khan – stigter van die Mongoolse Ryk – ontwikkel is.

Willemien Jooste se foto’s van Mongolië se gasvryheid. (Foto: Verskaf)

Die perde tydens die die Mongoolse Derby. (Foto: Verskaf)

Die perde tydens die die Mongoolse Derby. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daizee ·

Baie geluk Willemien!!! Dis ‘n ongelooflike veer in jou hoed!!!

Marie ·

Wat ‘n avontuur. Probeer die ou fliek Urga kyk, dit handel oor hierdie gebied. Baie geluk, julle was suksesvol omdat julle die roem gedeel het.

Realis Thailand ·

Eerstens aan beide die vrouens welgedaan en tweedens dat hulle saam gereis het en saam eerste gekom het wys vir my dat die rit nie net oor die wen was maar ook pret en ander mense te leer ken

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.