NSRI: Vier verdrink in Suid-Kaap; drie vissers nog vermis  

Sedgefield se strandmeer. (Argieffoto: wikivillage.co.za)

Drie Suid-Kaapse vissermanne word nog vermis nadat hulle die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle deur branders van die rotse afgeslaan is, aldus die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI).

Vier mense het ook in afsonderlike voorvalle in dié gebied verdrink.

In een van die voorvalle het drie plaaslike vissermanne Saterdag saam aan die kuslyn suid van Thembalethu gehengel toe twee van hulle kort na mekaar deur branders van die rotse afgeslaan is.

Volgens Mike Vonk, stasiebevelvoerder van die NSRI op Wildernis, het die tweede visserman in die see beland toe hy sy vriend probeer help het. Die derde man, wat nog op die rotse was, het sy vriende in ʼn veilige rigting probeer wys, maar dit was vergeefs.

“Toe hulle nie na ʼn veilige plek kon swem nie, het die vriend na hul voertuie bo-op die krans gehardloop om hulp op sy selfoon te ontbied.

“By sy terugkeer na onder het sy vriende onder die water verdwyn.”

Ondanks ʼn see-, land- en lugondersoek deur die NSRI, polisie en provinsiale nooddienste word die mans steeds vermis. Polisieduikers se soektog duur voort.

Nog ʼn visserman verdwyn

Nog ʼn visserman word tans vermis nadat hy Sondagmiddag by Hansmoeskraal naby Pacaltsdorp vermoedelik deur ʼn brander van die rotse afgeslaan is. Die NSRI, provinsiale nooddienste en die polisie is onder dié wat na die toneel ontbied is om ʼn see- en landsoektog te doen.

ʼn Lugsoektog kon weens digte mis nie met ʼn helikopter uitgevoer word nie. George-brandweerdienste kon wel hul  ʼn hommeltuig die lug instuur. Tot dusver was daar egter geen teken van die man nie. Die polisie se soektog gaan voort.

Drie verdrink in Sedgefield

Benewens die vissermanne het verskeie ander mense oor die naweek in die moeilikheid beland, en vier mense is in afsonderlike voorvalle dood.

Drie mense het in die Sedgefield-strandmeer verdrink toe hulle Sondag vermoedelik hier geswem het.

Nooddienswerkers het hulle Sondag omstreeks 12:30 na die toneel gehaas waar ʼn ereveldwagter reeds besig was om noodhulp op een van die baaiers – ʼn volwasse vrou – toe te pas.

“Volgens ooggetuies het die drie mense vermoedelik saam in die strandmeer geswem voordat een van die baaiers, ʼn vrou, se liggaam leweloos in die water aangetref is.

“Twee barmhartige samaritane het die vrou uit die water gehaal terwyl ʼn ereveldwagter van SANParke wat toevallig in die omgewing was noodhulp toegepas het.”

Die ander twee baaiers was in dié stadium nog vermis en ʼn soektog is van stapel gestuur, onder meer deur die NSRI en polisie.

Die liggaam van ʼn tweede vrou is omstreeks 18:00 uit die strandmeer gehaal. Polisieduikers het kort daarna die liggaam van ʼn man onder die water gevind. Albei is op die toneel dood verklaar.

Die vrou wat eerste uit die water gehaal is, is later dieselfde aand in ʼn hospitaal dood.

Man verdink in Mosselbaai

In nóg ʼn voorval Sondag is die NSRI in Mosselbaai saam met ander nooddienste ontbied toe inligting van ʼn aktiewe verdrinking ontvang is. Die voorval het naby die De Vette Mossel-restaurant plaasgevind.

By nooddienswerkers se aankoms op die toneel het ʼn lid van die publiek ʼn man reeds uit die water tot op die strand gebring. Alle pogings is ingespan om die man, in sy 30’s, by te bring, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Die 26-jarige man wat probeer het om die oorledene te red, is nie beseer nie.

“Ons vermoed die man het weens sterk strome in die moeilikheid beland toe die barmhartige samaritaan hom te hulp gesnel het.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.