Nuwe baas vir Curro-groep

Cobus Loubser is die nuwe man aan stuur van sake by die Curro-groep. (Foto: Verskaf)

Cobus Loubser, finansiële hoof van Curro, sal op 1 Januarie die leisels oorneem as nuwe uitvoerende hoof van dié genoteerde groep skole.

Hy neem oor by Andries Greyling wat sy uittrede aangekondig het. Greyling was 15 jaar lank verbonde aan Curro, aanvanklik as finansiële hoof, daarna as bedryfshoof en die laaste paar jaar as uitvoerende hoof.

Hy sal tot einde Junie volgende jaar beskikbaar wees om ʼn naatlose oorgang te verseker, het die Curro-groep in ʼn verklaring gesê.

“Die raad wil Andries bedank vir sy bydrae tot die groep en die onbaatsugtige manier waarop hy ten bate van die toekoms van kinders van hierdie land gewerk het. Ons wens hom alles van die beste toe vir die toekoms,” het Santie Botha, raadsvoorsitter gesê.

Loubser sal intussen steeds as finansiële hoof aanbly totdat ʼn nuwe voltydse aanstelling gemaak word.

Hy is in Januarie verlede jaar as uitvoerende direkteur en finansiële hoof by Curro aangestel. Loubser is ʼn geoktrooieerde rekenmeester met groot leiers- en kommersiële ondervinding. Hy was vantevore verbonde aan KPMG, was vier jaar lank die finansiële bestuurder van Virgin Active SA en was 11 jaar lank finansiële hoof by Holdsport Limited totdat dit in 2017 deur Long4Life oorgeneem en gedenoteer is.

“Ek sien daarna uit om voort te bou op die stewige grondslag wat my voorgangers in hierdie besonder belangrike onderneming gelê het. Ons fokus bly op die lewering van gehalte onderwys aan alle leerders in ons sorg,” sê Loubser.

“Ons het ʼn sterk en ervare span wat onderwysgeleenthede in Suidelike Afrika entoesiasties dryf en beleggersopbrengs verbeter.”

Mari Lategan, die groep se uitvoerende hoof vir korporatiewe dienste en maatskappysekretaris, is as uitvoerende direkteur aangestel en sal van 1 Januarie die leisels as adjunk- uitvoerende hoof oorneem. ʼn Proses om ʼn permanente maatskappysekretaris in Lategan se plek aan te wys, is reeds van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.