Nuwe virusvariant dalk aansteekliker, bestand teen entstof

Daar is groot kommer dat die variant aansteekliker kan wees en bestaande entstowwe kan ontwyk. (Grafiek: Unsplash)

ʼn Nuwe Covid-19-variant wat sedert Mei vanjaar in Suid-Afrika geïdentifiseer is, is nou reeds in minstens sewe ander lande opgemerk. Dié variant bevat talle mutasies wat reeds in al vier variante van kommer, Alfa, Beta, Delta en Gamma, asook drie variante van belang, Kappa, Eta en Lambda, gevind is.

Daar is boonop groot kommer dat die variant aansteekliker kan wees en bestaande entstowwe kan ontwyk. Boonop het die sogenaamde C.1.2-variant ʼn mutasiekoers van byna twee keer so vinnig as die koers van ander variante.

Die bevindings van die studie oor die variant is vroeër op medRxiv gepubliseer, maar moet nog portuurbeoordeling ondergaan. Die navorsing is gedoen deur kenners by Suid-Afrika se Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en die genomikawaarnemingslaboratorium Krisp.

Volgens die navorsers is C.1.2 ʼn afstammeling van C.1, wat die laaste keer in Januarie opgemerk is. Die nuwe variant het egter beduidend verander in vergelyking met C.1 en het talle mutasies ondergaan van die virus wat oorspronklik in Wuhan geïdentifiseer is.

Benewens Suid-Afrika, waar die variant reeds in minstens ses van die land se nege provinsies opgemerk is, is dit ook al in Engeland, Mosambiek, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Mauritius, Nieu-Seeland, Portugal, Switserland en China opgemerk.

Navorsers sê die identifikasie van nuwe Covid-19-variante hou gewoonlik verband met nuwe infeksievlae. Soos ander sogenaamde variante van kommer (oftewel kommerwekkende variante), het C.1.2 verskeie veranderings ondergaan benewens dít wat gewoonlik van die evolusiekoers verwag sou word. Die navorsers sê dit dui op ʼn waarskynlikheid dat die mutasie na vore gekom het tydens ʼn tydperk van versnelde evolusie in ʼn enkele individu met verlengde virale infeksie deur die mede-evolusie van die virus-gasheer.

Die studie het ook bevind die getal beskikbare opeenvolgings van C.1.2 kan moontlik ʼn onderverteenwoordiging wees van die verspreiding en gereeldheid waarmee die variant in Suid-Afrika en die res van die wêreld voorkom.

Die studie het bestendige toenames in die maandelikse getal C.1.2-genome gevind, met ʼn styging van 0,2% in Mei vanjaar tot 1,6% in Junie en 2% in Julie. Dit is soortgelyk aan die styging wat met die aanvanklike opsporing van die Beta- en Delta-variante in Suid-Afrika ondervind is.

Die navorsers het bevind die C.1.2-stam het 41,8 mutasies per jaar. Dit is nagenoeg 1,7 keer vinniger as die huidige koers wêreldwyd en is 1,8 keer vinniger as die aanvanklike beraming van die evolusie van Sars-CoV-2. Die soortgelyke kort tydperk van verhoogde evolusie is ook gesien in die Alfa-, Beta- en Gamma-variante van kommer wat daarop dui dat ʼn enkele voorval, gevolg deur ʼn toename in gevalle, die vinniger virale evolusie aangedryf het.

Die mutasies N440K en Y449H, wat reeds verbind word daarmee dat dit sekere teenliggaampies omseil, is ook in die C.1.2-mutasie gevind.

Navorsers sê die kombinasie van die mutasies, asook veranderings in ander dele van die virus, kan die virus moontlik help om teenliggaampies en immuunreaksies te omseil, ook in pasiënte wat reeds die Alfa- of Beta-variante van die virus opgedoen het.

  • medRxiv publiseer nuwe mediese navorsing wat nog nie geëvalueer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.