NVG prioritiseer wél WVK-sake

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê hy ondersoek wél beweerde misdade uit die apartheidsera.

“Die NVG het, onder sy huidige leierskap, belangrike stappe gedoen om die ondersoek en vervolging te verseker van sake wat uit die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) spruit.”

Verder het die NVG bevestig dat sy eie ondersoek, wat onder leiding van adv. Dumisa Ntsebeza gedoen is, wel politieke inmenging by die vervolging van hierdie misdade aandui.

Sy verslag het ook gevra vir ʼn onafhanklike kommissie van ondersoek wat kan kyk na die “omvang van en rasionaal agter politieke inmenging by die NVG se werksaamhede tussen 2003 en 2017”.

Dit is teenstrydig met ʼn verklaring van oudpres. Thabo Mbeki waarin Vrydag gesê is daar was gedurende sy termyn nie enige inmenging by dié sake nie.

Mbeki het in sy verklaring onder meer aangedring om te weet wie hom sou opdrag gee “om nie my werk te doen nie”.

Dit volg ná adv. Vusi Pikoli, voormalige direkteur van die NVG, in die media aangevoer het dat die ondersoek van sake wat die WVK oorhandig het, weens besluite van die uitvoerende gesag opgeskort is.

Die voormalige president het ook aangedring op ʼn verskoning van die NVG oor WVK-sake wat nie afgehandel word nie.

“As die ondersoeke waarna Pikoli verwys, gestaak is, is dit deur die NVG gedoen en nie weens ʼn opdrag van die regering, soos deur die advokaat aangevoer word nie,” het Mbeki gesê.

Volgens hom is daar geen rekord van ʼn enkele geval waar die NVG ʼn ondersoek of vervolging weens inmenging van die uitvoerende gesag gestaak het nie, “minstens nie in die tydperk 1999 tot 2008 nie”.

Volgens die NVG het hy in “onlangse jare prioriteitsake heropen en seker gemaak hy het die kapasiteit om dié sake te ondersoek en vervolging in te stel”.

“Sedert Januarie vanjaar het die NVG altesame 15 aanklaers wat bygestaan word deur 32 polisieondersoekers uit verskeie afdelings wat aangewys is om net na WVK-sake te kyk. Dit is gedoen onder moeilike en uitdagende omstandighede wat met die WVK-sake verband hou,” lui die NVG-verklaring.

In hierdie stadium is daar 137 sake vir ondersoek geregistreer, 21 sake is reeds afgehandel en ʼn verdere 10 lê nog op verskeie hofrolle.

Die NVG het ook daarop gewys dat, ingevolge ʼn verslag wat in Februarie op sy webblad gepubliseer is, sy “hantering van WVK-sake grootliks voldoende” is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Kyk uit vir al die ANC truuks van nou tot 29 Mei. Die IEC en die ANC het al klaar begin saam konkel!

domheks ·

Ou goed is meer belangrik as die huidige sake. Die meeste mense is al oorlede, nou wil hulle nog sake ondersoek!

Manie ·

Is daar dan nie destyds tydens Codesa ooreengekom dat beide partye gruweldade gepleeg is en dat gedane sake gedane sake is nie?

Blikkies ·

SAPS / NGV vermors hulpbronne waarvoor ons moet betaal. Dis ou Koeie. Kom oor dit.

Jakes ·

Mbeki sal uiteraard n stuiwer in die armbeurs wil gooi maar ongelukkig was hy net so swak soos al die ander presidente sedert 1994.

Johan ·

Regtig!!! Soos Domheks sê, die meeste van die vorige bedeling se leiers is al oorlede. Dis nou n absolute vermorsing van kosbare tyd & bàie geld!

Cassie Carstens ·

Die NVG hou moedswillig verhore van geimpliseerdes terug, sodat hulle name op die verkiesingslyste kan kom. Meeste van hulle moes al in aftreeoorde gesit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.