OBK-ondersoek hoor oor skorsings, bedankings

Voorsitter van die ondersoek, oudpresident van die hoogste hof van appèl, regter Lex Mpati (Foto: ANA)

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se uitvoerende hoof van menslike hulpbronne, Chris Pholwane, het Dinsdag aan die span wat bewerings van ongerymdhede ondersoek, gesê hy is opdrag gegee om Fidelis Madavo, uitvoerende hoof van genoteerde beleggings, te skors.

“Daar was ʼn gesprek [tydens Maandagaand se raadsvergadering] oor ʼn skorsing wat ek die volgende oggend moes uitvoer. Dit het, na my mening, verband gehou met die uitslag van ʼn interne oudit. Ek ken nie die besonderhede nie,” het Pholwane aan die komitee onder leiding van regter Lex Mpati, voormalige president van die appélhof, gesê.

Die ondersoek se getuienisleier, adv.Jannie Lubbe, wou by Pholwane weet of hy die ouditverslag ontvang het wat tot Madavo se skorsing gelei het. Pholwane het geantwoord hy het nooit die verslag ontvang nie. “Daar was nóg ʼn werknemer in die afdeling vir genoteerde beleggings wie ek moes skors.”

Lubbe wou weet of die “normale OBK-prosedure” gevolg is om Madavo te skors.

“Gewoonlik sal mens ʼn geleentheid wou bied om die kennisgewing [van skorsing] af te lewer, en vanoggend was dit uiteraard kort kennisgewing. Volgens prosedure sou mens ʼn reëling tref met die werknemer vir ʼn vergadering en dan sal die aard van die vergadering verduidelik word met ʼn aanduiding dat ʼn kennisgewing op hom bedien gaan word. Mens bied ʼn geleentheid [vir die werknemer] om skriftelik of mondelings te reageer,” het Pholwane verduidelik.

Hy het bygevoeg gewoonlik sou Madavo die geleentheid gebied word om te verduidelik waarom hy nie geskors moet word nie.

Gill Marcus, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en kommissaris van die ondersoek, het Pholwane uitgevra oor grootskaalse skorsings by die OBK. “Ongeveer 50% van jou uitvoerende komitee is óf geskors óf het bedank,” het Marcus gesê.

“Dit is die huidige stand van sake, ja,” het Pholwane reageer.

Die OBK-raad het in November beraadslaag oor die brief van die uitvoerende hoof, dr. Daniel Matjila, wat aangedui het dat hy van voornemens is om te bedank. Die raad, van Afrika se grootste batebestuurder, het bepaal dat dit in die OBK en Matjila se belang is om sy bedanking met onmiddellike effek te aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stripes ·

Is daar enige afdeling in die huidige regering waar daar nie korrupsie/omkopery/ongeruimdhede betrokke is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.