Ombud betaal byna R400 miljoen uit ná versekeringsklagtes

lewensversekering-rawpixelcom

(Foto: Rawpixel/Pexels)

Die ombudsman vir langtermynversekering (dus, vir lewens) en ombudsman vir korttermynversekering (dus, nie vir lewens nie) het die afgelope boekjaar sáám nagenoeg R400 miljoen aan verbruikers uitbetaal wat klagtes ingedien het.

Die voortslepende Covid-19-pandemie kry die skuld vir die toename in klagtes wat verband hou met langtermynversekering wat gedurende dié boekjaar ontvang is. Klagtes in verband met korttermynversekering het egter met 11,7% afgeneem, vergeleke met 2020.

Die ombudsman vir langtermynversekering het in ’n gesamentlike 2021-jaarverslag aangedui dat R200 miljoen die afgelope boekjaar aan klaers uitbetaal is. Dít terwyl die ombudsman vir korttermynversekering se geldelike voordeel vir verbruikers gedurende die 2021-’22-boekjaar R197 188 388 beloop het.

Luidens die verslag is R200,7 miljoen in enkelbedrae aan klaers uitbetaal en ’n bykomende R948 592 is aan klaers toegeken as vergoeding vir swak diens.

Altesame 17 379 skriftelike versoeke vir bystand is verlede jaar aan die kantoor van langtermynversekering gerig. Dié aantal versoeke het 2020 se rekord van 14 198 oorskry. “Dit kan grotendeels toegeskryf word aan die gevolge van die Covid-19-pandemie,” lui die verslag.

Die aantal gevalle waar die versekeraar eindelik geld aan die kliënt moes uitbetaal (8 163), het óók die vorige jaar se rekord oorskry.

Meer klagtes is egter tydens die 2021-’22-boekjaar afgehandel, vergeleke met die vorige boekjaar.

Denise Gabriels, adjunk-ombudsman vir langtermynversekering, sê sy lede (versekeringsmaatskappye) moes tydens die 2021-’22-boekjaar onder uiters uitdagende omstandighede funksioneer. “Baie mense het personeel gehad wat van die huis af werk, wat sy eie uitdagings gebied het om toegang tot inligting en dokumentasie te verkry.

“Dit, tesame met ’n buitensporige toename in die aantal eise, veral begrafnis- en kredietversekeringseise, het aanleiding gegee tot baie diensverwante klagtes.

“Ondanks enkele voorvalle van swak dienslewering en swak hantering van klagtes, het die versekeraars oor die algemeen goed op die uitdagings gereageer,” meen Gabriels.

Die ombudsman se kantoor vir korttermynversekering het op sy beurt 9 797 nuwe klagtes tydens die 21’-boekjaar geregistreer, waarvan 259 Covid-19-verwante (2,6%) klagtes was. Dit is minder as die 7% Covid-19-verwante klagtes in 2020.

Klagtes wat voortspruit uit die burgerlike onrus, plundering en skade aan infrastruktuur wat in Julie 2021 in KwaZulu-Natal en Gauteng aangemeld is, is spesifiek as “Sasria”-klagtes gekategoriseer. Dit wil sê klagtes wat spesifiek deur die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging (Sasria)  gehanteer is.

Altesame 31 Sasria-klagtes is verlede jaar geregistreer.

Korttermynversekering het 10 879 klagtes afgehandel, 0,7% meer as in 2020.

Die kantoor kon ʼn algehele kliëntervaring-gradering van 76% uit ʼn teiken van 80% handhaaf, dieselfde telling as in 2020.

Teikens nie behaal nie

Luidens die verslag kon die ombudsman se kantoor vir korttermynversekering egter nie daarin slaag om twee operasionele teikens wat hy vir homself in 2021 gestel het, te bereik nie, naamlik ʼn gemiddelde omkeertyd (TAT) van 120 dae en om te verseker dat die aantal klagtes wat vir ses maande uitstaande is nie 10% van die aantal oop klagtes uitmaak nie.

Die kantoor het eindelik die jaar afgesluit met ʼn gemiddelde TAT van 138 dae, en met 332 klagtes uitstaande vir ses maande in plaas van 300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Dit is jammer dat die berig nie die name bevat van die versekeraars wat die messte eise afgekeur het, dit kan verbruikers help om die beter versekeraar te kies.

Alfred E Neuman ·

Jy is heeltemaal korrek. Dit is die publiek en veral betalende kliënte se reg om daarop aan te dring. Maroela Media, publiseer asb die lys van versekeraars wat deur die ombudsman geforseer was om uit te betaal, asook die totale bedrae betrokke.

Ou Baardbek ·

“Sommige” (??) sogenaamde versekeraars weier volstrek om betalende kliënte in Afrikaans te bedien of beantwoord. Staak die misbaksels se ondersteuninjg!

May10 ·

As dit kom by motor versekering ,bly Santam die beste. Ek werk in die MI, ek sien al die probleem “insurances”.

Lillian ·

Eerstens, is die ‘call centres” baie vinnig om jou te bel en versekering aan jou af te smeer en verder betaal jy maandeliks stipelik jou premie net om ook jou gat af te sukkel om ‘n eis uitbetaal te kry, want dan is daar een verskoning op die ander van bepalings en voorwaardes wat nie vooraf aan jou meegedeel is nie.

quartus ·

kommerwekkend dat daar so dikwels ingegryp moet word met versekeringseise wat nie uitbetaal word nie en dan na die ombudsman verwys word, waar baie van die eise wel terugverwys word na versekeraars vir betaling. Jy moet jou versekeraar maar sorgvuldig kies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.