Ombudsman sê oor treinbrande in Wes-Kaap

Treinwaens wat in November uitgebrand het.

Die polisie in die Wes-Kaap is nie in staat om die brand van treine in dié provinsie behoorlik te voorkom, te ondersoek óf enige beweerde oortreders in hegtenis te neem nie.

Só het polisie se ombudsman JJ Brand bevind ná ʼn ondersoek na die grondwetlike pligte van die polisie en die bewering dat die polisie nie in staat is om die vandalisme van Metrorail-treine in die provinsie te stuit nie.

Die LUR van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, het die bevindings verwelkom.

“Die ondersoek is aangevra ná ʼn vlaag voorvalle van brandstigting van spoorinfrastruktuur en die polisie se onvermoë om diegene verantwoordelik aan te keer.  Op die hoogtepunt van dié aanvalle het pendelaars geweldig onveilig gevoel en daar was groot vertragings en kansellasies van treine wat hulle gestrand gelaat het,” het Fritz gesê.

Twee mense is die afgelope paar maande dood, tientalle treine het uitgebrand en skade van sowat R600 miljoen is in die vlaag brandstigtingsvoorvalle aangerig.

“Die kwessie van spoorwegveiligheid is nou selfs meer belangrik terwyl Prasa voorberei om sommige van sy dienste op 1 Julie te hervat.”

Pendeldienste is weens die staat van landswye afsondering grootliks opgeskort.

Lede van die publiek kon insette aan die ombudsman lewer en onderhoude is met polisiebeamptes en ander belanghebbendes gevoer.  Die polisie se saakdossiere is aangevra, ontleed en bevindings daaroor is gedoen.

Fritz sê een van die mense wat ʼn inset gelewer het, het gesê in 1986 was daar 6 422 spoorwegpolisielede wat bygestaan is deur 2 800 spoorwegpolisiereserviste.  Weens toenemende druk op polisiehulpbronne is die spoorwegpolisie in 1986 by die polisie ingelyf.

Argieffoto van treinwaens in ligte laaie op die Kaapse stasie.

“Teen 2010 het die polisie net 3 232 polisielede aan die polisie se snelspooreenheid toegewys.  Dit het egter beteken dat die spoorweë 3 190 permanente lede en 2 800 reserviste in vergelyking met 1986 verloor het.  Dit is altesame 5 990 minder lede by stasies en op treine,” het Fritz gesê.

Fritz sê nog ʼn respondent het gewys op ʼn meningspeiling wat bevind het dat 88,9% van mense aangedui het dat hulle soms of nooit ʼn polisielid op Metrorail-treine of op stasies sien nie.  Net meer as 70% van mense het gesê hulle voel onveilig op Metrorail se treine en op stasies.

Die ombudsman het bevind die klagte kan gestaaf word en selfs al het die nasionale polisiehoof en die uitvoerende hoof van Prasa ʼn ooreenkoms aangegaan, is dit eers gedoen ná talle voorvalle van treinbrande, sterftes en die verlies van miljoene rande.

Brand het ook bevind die huidige onsekerheid oor veiligheidskontrakte by Prasa dreig om dié ooreenkoms in die wiele te ry.  Volgens hom het die leemtes by Prasa in ʼn groot magte bygedra tot die polisie se ondoeltreffendheid.

(Foto: Twitter)

Hy het bevind die polisie kon tot dusver net jeugdige verdagtes in verband met die brande aankeer en kon nog nie enige volwassenes of groepe daarmee verbind nie.

Daar is ook steeds geen motief vir die brande vasgestel nie.

“Geen skuldigbevinding is nog gemaak vir die brand van treine in die Wes-Kaap nie.  Hoewel die polisie net een van verskeie rolspelers in die strafreggroepering is wat skuldigbevindings moet verseker, is dit steeds sy verantwoordelikheid om ʼn saak wat behoorlik ondersoek is, met bewyse, aan ʼn hof voor te lê sodat die hof ʼn bevinding kan maak,” het Fritz gesê.

Die ombudsman het aanbeveel dat die Wes-Kaapse polisiehoof gepaste stappe doen om die tekortkominge wat in die verslag uitgewys is, aan te pak en dat die verslag voorgelê moet word aan die Wes-Kaapse se regering se staande komitee oor gemeenskapsveiligheid, kultuuraangeleenthede en sport.

Volgens Frits sal die komitee die verslag hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Begin ondersoek by taxi eienaars.

JohanR

Dit is die DA Kaap. Dink nie die ANC gaan haastig wees om te ondersoek nie. En soos Nie Verbaas se, wie baat deur treine te brand….die taxis. Soe werk die ANC en die taxis lekker saam om Stad Kaapstad lam te le. Die dag as die Kaapstad Stasie lam gele is, en geen treine loop is die dag dat die taxis geld soos bossies maak. Al self die stasie ‘n paar mal verwoes, en dan kom staan hulle die volgende more by die verwoeste stasie en verwag om nou hulle gewoone trein te vang! Dink seker die geld om… Lees meer »

Jacobus

Paragraaf twee som dit op. Die gewilligheid van wetstoepassers om die saak te kan of wil oplos is ter sprake. Agenda?

Gawie

Ons het altyd gespot met die ‘Stasie Blompotte’ (eertydse Spoorwegpolisie vir die jongklomp), maar hulle het hulle werk gedoen, en daar was altyd een of meer in die omgewing om toe te sien dat dinge glad en volgens wet verloop.

Willem

Geen ondersoek nodig dis die anc