Ondersoek begin ná rugby-afrigter in valskermongeluk omkom

Greig Oliver (Foto: Lions/Twitter)

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) se ongeluk-en-insidentondersoekafdeling (AIID) is formeel deur die South African Hang-gliding and Paragliding Association (Sahpa) versoek om die ondersoek te onderneem waartydens die Ierse rugby-afrigter Greig Oliver (58) omgekom het.

Volgens Sisa Majola, woordvoerder van die BLO, is die AIID versoek om die ondersoek te behartig weens die spesifieke kompleksiteite en omvang van die ongeluk.

“’n AIID-ondersoeker is na die ongeluksterrein gestuur om bewyse in te samel om meer inligting te bekom, wat sal help om die omvang van die ondersoek te bepaal,” sê Majola.

Op grond van aanvanklike inligting wat ingesamel is, kan die AIID bevestig dat tandem-valskermsweeftuie, waarop Oliver was, op 3 Julie om 12:53 van Seinheuwel in Kaapstad vertrek het met die doel om op die Seepunt-promenade te land.

Voor die sweeftuig te lande kon kom, het dié tuig en ’n ander sweeftuig in die lug bo die promenade gebots.

Maroela Media het vroeër berig die sweeftuig waarop Oliver was, het tydens die ongeluk ’n tweede valskerm ontplooi en het tussen 200 m en 300 m ver in die see geland.

Die manlike vlieënier van dié sweeftuig is naby die promenade aangetref en vir geringe beserings behandel. Oliver is op die rotse by die promenade aangetref.

(Foto: Paul Jacobson/Facebook)

“Die AIID sal voortgaan om die nodige terugvoer rakende hierdie ondersoek te gee, met ’n voorlopige verslag wat binne 30 dae van die dag van hierdie ongeluk uitgereik sal word.”

Oliver het in 1987 aan die eerste Wêreldbeker-rugbytoernooi as ’n rugbyspeler vir Skotland deelgeneem voordat hy aansien as ’n talentvolle afrigter in Ierland verwerf het.

Oliver se seun is die skrumskakel van die o. 20-rugbyspan van Ierland, Jack Oliver.

Oliver en sy vrou, Fiona, was in Suid-Afrika om Jack te ondersteun, wat rugby in Kaapstad gespeel het.

Die Iere se o. 20-span het Sondag hul oorwinning teen die Junior Bokke aan Jack opgedra.

Die Iere het die Jong Bokke met 31 – 12 verfomfaai om tot die eindstryd van Wêreldrugby se 0. 20-kampioenskap deur te dring.

Minister Patricia de Lille (Foto: Department of Tourism/Facebook)

Patricia de Lille, minister van toerisme, het intussen haar innige meegevoel met die familie en vriende van Oliver betuig. Sy het ook klem gelê op die sterk veiligheidsprotokolle wat in die avontuurtoerismesektor in Suid-Afrika geld.

“Ons deel in hul hartseer en bied ons volle ondersteuning in hierdie moeilike tyd,” het De Lille gesê.

“Suid-Afrika bied ’n breë spektrum van avontuurtoerisme-aktiwiteite, en ons glo vas daaraan om opwindende, veilige en onvergeetlike ervarings aan ons besoekers te bied. Hierdie tragiese voorval maak ons weereens bewus daarvan dat ons sterk veiligheidsprotokolle en ’n sterk regulatoriese omgewing ten volle moet ondersteun om Suid-Afrika te laat groei en te ontwikkel as ’n bestemming waar avonturiers veilig en geborge voel.”

De Lille het verder Suid-Afrika se verbintenis tot die hoogste vlakke van veiligheidstandaarde wat deur die avontuurtoerismesektor in Suid-Afrika gehandhaaf word, bevestig, en het die pogings van organisasies soos die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) wat selfregulering in die avontuurtoerismesektor bevorder, geloof.

“Deur ons kollektiewe pogings kan belanghebbendes in die bedryf, avontuurtoerisme-operateurs en verenigings ons veiligheidsprotokolle versterk en die welstand van avontuurtoeriste verseker. Ek is daartoe verbind om met belanghebbendes in die bedryf te skakel om saam te werk aan enige inisiatief wat die welsyn van ons toeriste voorop stel.”

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus Johannes ·

Wie het in die see geland met n valskerm wat between dat daar Nog iemand in een van die tuie was en nie rekenskap van gegee is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.