Ondersoek ná twee tydens opleidingsvlug sterf

Ondersoekers en nooddienswerkers Sondag op die toneel in die Nasrec-omgewing waar die vliegtuig neergestort. (Skermgreep: eNCA)

Ondersoekers van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het Sondag die toneel naby Nasrec in Johannesburg gefynkam ná ʼn vliegongeluk wat die lewe van twee mense geëis het.

Die vliegtuig het omstreeks 09:00 naby die FNB-stadion neergestort nadat dit by die Grand Central-lughawe opgestyg het.

Die vliegtuig, na verneem word ʼn Piper Twin Comanche, is glo in die ongeluk heeltemal verwoes. Albei slagoffers is op die toneel dood.

Sisa Majola, woordvoerder van die BLO, sê die owerheid sal binne 30 dae ʼn voorlopige verslag oor die ongeluk bekend maak.

“Die vliegtuig het van die Grand Central-lughawe in Gauteng op ʼn opleidingsvlug vertrek met die bedoeling om weer by dieselfde lughawe te land. Daar was twee insittendes aan boord van die vliegtuig.

“Die vliegtuig self het beduidende skade opgedoen.”

Volgens Majola het die lugvaartreddingskoördinering die voorval aangemeld en paramedici van verskeie nooddienste is na die toneel ontbied.

Tientalle boodskappe van medelye uit die lugvaartgemeenskap het Maandag steeds op sosiale media vir die twee slagoffers ingestroom.

Die vliegskool waaraan die slagoffers verbonde was, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lurock ·

Innige meegevoel aan die agtergeblewenes. Ek het egter ‘n vraag, is al daai mense regtig nodig op die toneel. Heng hulle vertrap mekaar en in die proses dalk ook bewyse. Ek kan maar net nie gewoond raak hierdie “Rent a crowd” wat op elke insident teenwoordig is, waaragtag ek verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.