‘Ons het ons lesse geleer in 2021’ – NatJoints

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Michele Spatari / AFP)

Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints) sê die onluste van Julie 2021 het hom voorberei op komende Maandag se beplande nasionale stilstand deur die EFF.

“Ons het ons lesse geleer in 2021,” het genl.maj. Tebello Mosikili, adjunk- nasionale polisiekommissaris, Vrydagaand tydens ’n mediakonferensie gesê in aanloop tot die beplande nasionale stilstand.

Mosikili het dit duidelik gestel dat NatJoints meer voorbereid is. Hoewel lede van die EFF Maandag sal kan betoog, sal hulle egter nié toegelaat word om die land tot stilstand te dwing nie.

Die versperring van nasionale, provinsiale en munisipale paaie, die brand van bande, die plundering of vernietiging van eiendom óf openbare geweld sal gevolglik nié geduld word nie.

Die “maksimum hulpbronne” sal ook op dié dag gemobiliseer word om polisiesigbaarheid te verhoog en opportunistiese misdade te verhoed.

“Die maatreëls wat deur die sekerheidsgroepering ingestel is, sal dit moontlik maak vir ondernemings om hul bedrywighede voort te sit, terwyl die regering en alle vorme van vervoerdienste toeganklik sal wees vir lede van die publiek.”

Mosikili het ook gesê sekerheid sal Maandag by al die land se toegangspunte – land, see en lug – verhoog word. “Ons verseker reisigers wat die land binnekom en uitgaan dat dit nie nodig is om paniekerig te raak nie.”

Reisigers word wel aangeraai om voorsiening te maak vir moontlike vertragings weens die bykomende sekerheidsmaatreëls wat Maandag sal geld om reisigers se veiligheid Maandag te verseker.

Mosikili het in antwoord op ’n vraag van ’n verslaggewer gesê daar sal nie van gemeenskapspolisiëringsforums verwag word om die polisie se werk Maandag te doen nie. “Hulle is egter as ons vennote ons oë en ore om enige voorvalle by die polisie aan te meld.

“Hoewel elke burger daarop geregtig is om te betoog, wil ons herhaal dat hierdie reg uitgeoefen moet word op ’n wyse wat nie inbreuk maak op die regte van dié wat nié betoog nie.

“Om mense se vryheid van beweging te verbied is ’n strafregtelike oortreding,” het Mosikili beklemtoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.