Ontsnapte moordverdagte skiet glo homself

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Moordverdagte wat ʼn paar dae gelede onder polisiebewaking in Mpumalanga ontsnap het, het Sondag homself glo geskiet met ʼn wapen wat hy van ʼn polisieman gebuit het. Hy het ná sy ontsnapping boonop glo ʼn roof met dieselfde vuurwapen uitgevoer.

Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê dié 31-jarige verdagte is verlede week in hegtenis geneem in verband met ʼn moord- en roofsaak. Dié saak het op 19 Februarie in Dullstroom plaasgevind.

“Op pad polisiestasie toe waar die verdagte ondervra sou word, het hy die polisiebeampte wat hom na die stasie toe geneem het, van sy dienspistool beroof. Hy het ook daarin geslaag om te ontsnap,” sê Hlathi. “Hy is Sondag weer opgespoor, maar is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal opgeneem nadat hy homself oënskynlik geskiet het.”

Volgens Hlathi het lede van die gemeenskap die polisie gister (Sondag) in kennis gestel dat die verdagte met ʼn vuurwapen hul huis betree en homself geskiet het.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die verdagte in ‘n plas bloed aangetref. Hy het egter steeds asem gehaal.

“’n Vuurwapen het in sy hand gelê. Die vuurwapen is moontlik die dienspistool wat hy vroeër die week van die polisiebeampte gesteel het.”

Die polisie het ammunisie op die toneel gevind. Hulle het ook ‘n gebreekte venster in die huis gewaar wat daarop dui dat die verdagte dit moontlik gebreek het om só toegang tot die huis te verkry.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na die hospitaal gehaas.”

Die verdagte word boonop met nóg ʼn gewapende rooftog verbind wat hy net ná sy ontsnapping gepleeg het.

“Die verdagte het Vrydag ʼn sakeman in Dullstroom van ʼn onbekende bedrag geld beroof. Berigte dui daarop dat die sakeman sy snoepwinkel gesluit het en in die dorp gaan stap het. Die verdagte het hom genader, ʼn vuurwapen op hom gerig en geld van hom geëis. Hy het moontlik die polisiebeampte se dienspistool in hierdie misdaad gebruik.”

Die verdagte staan tereg op aanklagtes van huisbraak, met die doel om ‘n misdaad – wat in hierdie stadium nog nie bekend is nie – te pleeg. Hy word ook aangekla van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, gewapende roof sowel as gewone roof.

“Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit dat hy aan ander misdrywe verbind kan word nie. Hy sal na verwagting in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Nee, jy het nie mooi gelees nie….. Hy het homself gewond en word onder polisiebewaking in die hospitaal behandel. Op die belastingbetaler se rekening! EN onder polisiebewaking, waarvoor die belastingbetaler OOK betaal, dus ‘n dubbele uitgawe!

Gatvol... ·

En dit omdat die polisie beampte nie die verdagte geboei het nie. Hoe anders het hy die eapen sfgevat?

Casper ·

Weereens ‘n vuurwapen wat van ‘n polisieman “gebuit”het maar die polisieman is ongedeerd.Sou hy nie juis die polisieman geskiet het nie

Alet ·

Hoekom sal jy jouself wil skiet as jy klaar ontsnap het? Vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.