Openbare beskermer nou in ANC se visier

Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die huidige onmin tussen die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, en pres. Cyril Ramaphosa, kan die doodsklok vir haar ampsposisie lui as gerugte in die wandelgange van die parlement waar is.

Mkhwebane, wat anders as haar voorganger, adv. Thuli Madonsela, gereeld met haar bevindings fouteer en dan deur die howe tereg gewys moet word, het onlangs bevind Ramaphosa het die parlement mislei met sy antwoord verlede jaar aan die DA-leier, Mmusi Maimane, dat hy geen geld of skenkings van die omstrede maatskappy Bosasa ontvang het nie.

Maimane het toe ‘n klagte by die openbare beskermer ingedien oor die kwessie.

Ramaphosa het kort daarna ‘n verklaring aan die parlement uitgereik dat Bosasa wel R500 000 geskenk het aan sy veldtog om in 2017 ANC-leier te word, maar dat hy daarvan onbewus was, omdat hy spesifiek gevra het om nie ingelig te word oor wie die skenkers was nie, sodat hy hulle nie later kon bevoordeel nie.

Nietemin het Mkhwebane bevind Ramaphosa het die parlement mislei. Sy het ook bevind hy het die ministeriële gedragskode oortree deur nie Bosasa se skenking, en die res van die skenkings aan sy veldtog – behoorlik te verklaar nie.

Dat sy hierdie bevindings maak ten spyte van Ramaphosa se verduidelikings, dat sy reeds soveel foutiewe bevindings gemaak het wat op hersiening deur howe tersyde gestel is en dat daar ‘n persepsie is dat sy voorkeur gee aan die klagtes wat ooreenstem met die doelwitte van die EFF en die Zuma/Magashule-vleuel van die ANC, het die gedagte nou laat oorspoel na die Ramaphosa-vleuel van die ANC dat sy ‘n politieke agenda dryf, onbevoeg is en deur die Nasionale Vergadering uit haar amp verwyder moet word.

Dit is al lankal die DA se mening, en ‘n poging van die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, om presies dit te doen is deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, na die tersaaklike portefeuljekomitee, naamlik die portefeuljekomitee oor justisie, verwys.

Nou het die ANC in die afgelope paar dae in die parlement nie-amptelik ‘n politieke vlieër opgestuur om te kyk hoe die wind waai en deur tussengangers toenadering tot die DA te soek met die voorstel: As die ANC die DA-versoek steun om Mkhwebane uit haar pos te verwyder, sal die DA die klagte aan Mkhwebane oor Bosasa se skenkings aan die Ramaphosa-veldtog terugtrek?

Niks hiervan is nog formeel nie, maar navrae aan die DA-kant laat dit blyk dat die DA enige steun om Mkhwebane uit haar pos te verwyder sal verwelkom, maar geen nut daarin sien om die klagtes teen Mkhwebane terug te trek nie omdat hulle nie enige gedrag deur Ramaphosa wil toesmeer nie, omdat enigeen dan in elk geval soortgelyke klagtes kan indien (en die EFF byvoorbeeld sekerlik sal) en dat hul besware teen Mkhwebane niks met die Ramaphosa-geval te doen het nie.

Terselfdertyd is dit waar dat die DA se poging om Mkhwebane uit haar pos te verwyder slegs kan slaag indien die ANC-meerderheid in die parlement dit steun. Interessante en sensitiewe politieke onderhandelings met ‘n potensieel belangrike afloop lê dus voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Francois Joubert ·

Iemand het opgemerk dat indien die DA die openbare beskermer ondersteun het in haar Ramaphosa uitspraak, dan was sy nou reeds gepos. Die ANC kannie iets ondersteun wat voorgestel is deur ‘n ander party, hulle kan net nie. Dit is die Hoofman Mentaliteit wat bo alles geld. Omdat die DA dit voorgestel het is die kans baie goed dat die meerderheid ANC daarteen sal stem. Daarom die versoek dat die DA die klagte onttrek en die ANC dan self die proses sal deurvoer.

Gert van Wierdapark ·

Die “katjie” het sy sewe lewens nou “op-gebruik”.

fred ·

ek wonder hoe die DA hierdie één gaan hanteer?
Ontrek en steun die ANC, of gaan aan met die saak teen cr en steun die OB.

marous ·

Onafhanklik en vreesloos die waarheid is sekerlik deel van die pos omskrywing . Of dit nagekom is , sal die komissie vir die een komissie van die ander komissie se komissie seker besluit …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.