Operasies, keisers gaan voort te midde van waterkrisis

Die Robert Sobukwe-hospitaal se personeel werk onverpoos om seker te maak dat daar voldoende watertoevoer na die hospitaal is. (Foto: Verskaf)

Gerugte dat ʼn watertekort operasies by die Robert Sobukwe-hospitaal in Kimberley laat stilstaan, blyk onwaar te wees. Inteendeel, die hospitaalpersoneel werk onverpoos om seker te maak dat daar voldoende watertoevoer na die hospitaal is.

Só sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se leier in die Noord-Kaap.

Daar het die afgelope tyd groot kommer geheers toe bewerings die ronde gedoen het dat noodsaaklike operasies weens ʼn watertekort nie gedoen kon word nie.

Die VF Plus is vroeër in kennis gestel dat twee vroue wat keisersneë benodig weens ʼn watertekort nie geopereer kon word nie. Mense van reg oor die Noord-Kaap word na die Robert Sobukwe-hospitaal verwys vir ernstige of groot operasies.

Die VF Plus het besluit om self ondersoek in te stel en met dr. Vincent Tsolo, waarnemende uitvoerende hoof van die hospitaal, in verbinding getree.

“Hy het die versekering gegee dat behandeling wel voortgaan en die VF Plus genooi om self die hospitaalkompleks te besoek. Raadslid Kobus van den Berg was binne ʼn uur daar en is deur dr. Tsolo en sy afdelingshoofde deur die hospitaal geneem,” sê Boshoff.

Volgens Boshoff was dit duidelik dat daar wel waterprobleme is, maar dat die probleem die nodige aandag geniet, en dat alle teaters wel water het.

Die betrokke pasiënte wat onder die VF Plus se aandag gebring is, is glo weens kliniese faktore nog nie geopereer nie.

“Aangesien gesondheid vir almal belangrik is, verwelkom die VF Plus die hospitaal se deursigtige benadering tot die probleem.”

Verskeie dele van die land sukkel die afgelope week met onbeplande wateronderbrekings of selfs watertekorte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.