Opsystaanreël sal ook vir speaker geld, sou klagte kom – Mbalula

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: @ParliamentofRSA/X)

Die beleërde parlementêre speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is nog nie strafregtelik aangekla nie, aldus pres. Cyril Ramaphosa.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, sê egter die regerende party se sogenaamde opsystaanreël sal ook op Mapisa-Nqakula van toepassing wees, sou sy in ’n hof van korrupsie aangekla word.

Die ANC se opsystaanreël bepaal dat amptenare tydelik uit hul amp moet tree hangende die finale uitslag van ’n strafsaak teen hulle.

Die speaker is reeds met spesiale verlof.

Ramaphosa het Saterdag tydens die ANC se verkiesingsveldtog in Gqeberha gesê sekere prosesse is reeds ingestel sodat die verdoemende bewerings van korrupsie teen Mapisa-Nqakula ordentlik ondersoek kan word.

Die president vra dat die prosesse gerespekteer word.

“Ons het goed toegeruste en onafhanklike instellings en ons moet hulle die ruimte en geleentheid bied om hul werk te doen. Die speaker het reeds aangedui dat sy met die proses saamwerk …

“Die saak word hanteer, so kom ons gee die instansies wat die saak hanteer ruimte om dit wel te doen. Ek is seker dat die oppergesag van die reg en opvolgprosesse vir dinge soos hierdie wel in ons land sal seëvier, so kom ons laat dit gebeur.”

Maroela Media het vroeër berig Mapisa-Nqakula word van korrupsie verdink nadat sy glo tydens haar termyn as minister van verdediging omkoopgeld van miljoene rande aanvaar het. Die onafhanklike ondersoekdirektoraat het vroeër vandeesweek ’n klopjag by haar huis in Johannesburg gedoen en daar is wyd bespiegel dat haar inhegtenisneming op hande is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacobus ·

Onafhanklike instellings wat hulle werk doen, louter twak!!
Wat my onderkry, is die mense se onbeskaamde liegtery en stelery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.