OR Tambo groot ‘handelsentrum’ van onwettige kommoditeite

(Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg het tussen 2016 en 2018 die naasgrootste aantal beslagleggings op onwettige kommoditeite van alle Afrika-lughawens gedoen en word as ʼn groot handelsentrum vir onwettige kommoditeite, veral wildleweprodukte, beskou. Wat renosterhorings en dwelms betref, het die grootste aantal beslagleggings by OR Tambo plaasgevind.

Só is bevind in ʼn onlangse verslag deur die Global Initiative Against Transnational Organised Crime.

Die verslag, getiteld Convergence of wildlife crime and other forms of transnational organised crime in Eastern and Southern Africa convergence of wildlife crime, is ʼn samevatting van navorsing oor sluikhandel van wildprodukte wat tussen Januarie 2021 en Augustus 2022 in tien lande oor die hele Oos- en Suider-Afrika uitgevoer is.

Die skrywer, Alastair Nelson, ʼn senior ontleder by Global Initiative, het 105 onderhoude gevoer met regeringsamptenare, personeel van multilaterale of bilaterale organisasies, werkers van nieregeringsorganisasies (NRO) en mense in die private sektor, wat almal ʼn rol in die bekamping of vermindering van wildlewemisdaad speel.

Die verslag het bevind dat korrupsie en geldwassery eie aan georganiseerde misdaad is en dat daar oor die algemeen ligte strawwe vir wildlewemisdade opgelê word, in vergelyking met ander vorme van ernstige misdaad.

“Sommige misdaadnetwerke verken eers die terrein deur onwettig met wildleweprodukte handel te dryf voordat hulle na ernstiger misdadige aktiwiteite aanbeweeg,” lui die verslag.

“Die huidige tendens in wildlewemisdade is egter toenemend gesofistikeerde misdaadnetwerke, wat toenemend verfynde metodes gebruik om ʼn reeks produkte oor verskeie grense heen te smokkel om bestemmingsmarkte te bereik.”

OR Tambo-lughawe

Terwyl spesifieke navorsing nie gedoen is oor onwettige handel by die OR Tambo-lughawe nie, is daar twee voorvalle tydens die onderhoude uitgelig waar daar op die lughawe met perlemoen onwettig handel gedryf is.

Die een voorval het behels dat omkoopgeld direk aan doeanebeamptes betaal is om gemerkte sakke deur ʼn skandeerder te laat gaan om na Hongkong vervoer te word. Dié sakke het gedroogde perlemoen bevat. Die fooi wat betaal is, was na bewering ongeveer R1 500 per sak.

Een van die ondersoekers het daarop gewys dat dit ʼn buitengewone klein bedrag is om te neem vir só ʼn groot risiko. “Dit dui daarop dat dit ʼn gereelde gebeurtenis is,” lui die verslag.

Met die tweede voorval was ʼn skeepvaartagent betrokke by die smokkelary van gedroogde perlemoen, renosterhoring en dwelms van die OR Tambo-lughawe na Hongkong.

Perlemoenhandel

(Foto verskaf deur die Valke)

Volgens die verslag is Suid-Afrika die wêreldwye brandpunt vir sluikhandeldryf in perlemoen, met bendes wat dié 30 jaar oue mark grootliks beheer. Die mark het oor die jare tot ʼn “gestruktureerde, winsgewende en soms gewelddadige stelsel” ontwikkel.

Die perlemoen wat aan die Kaapse kus gestroop word, is een van die duurste variëteite ter wêreld. Dit is omdat dit groot is, in die natuur gevang word en ook goed droog word.

Perlemoen word in baie gevalle as ʼn ruilhandelmiddel gebruik vir dienste of om ander onwettige produkte, soos dwelms en vuurwapens, te bekom.

Gewoonlik verkoop of ruil plaaslike bendes die nat perlemoen direk aan Chinese kopers. In Kaapstad kan die nat perlemoen vir tussen R2 000 en R2 200 per kilogram aan Chinese kopers verkoop word.

Nelson het onderhoude met Wes-Kaapse bendelede gevoer en dit het aan die lig gekom dat dié bendes van huurmoordenaars van Chinese misdaadorganisasies in Gauteng gebruik maak om sluipmoorde namens hulle uit te voer, met perlemoen wat as betaling gebruik word, lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

domheks ·

Net soos alles in die NUWE SA is die ook ‘n mislukking. Viva cANCer.

Leon ·

SA is ongetwyfeld die Misdaad Hoofstad van die wereld , as daar enige Misdaad in die Wereld bestaan dan word SA deur alle misdaadsindikate weteld wyd gebruik want dit is die veiligste plek in die wereld vir misdadegers en alle Sindikate wereld wyd weet dit.
SA is n mislukte Staat , nie vir die wereld nie maar vir die mense van die land en die buiteland sit agter dit.

Di ·

Waar! Elke krimineel se droom land en so MAKLIK om die land binne te kom

Leon ·

Daar is net een woord CHINA hulle vernietig die hele wereld nie net AFRIKA nie en dit groei by die sekonde

Manie ·

SA met sy swak polisie rekord het die wêreld se misdaad hool geraak. ‘n Onlangse berig het gereken dat net 6% van alle polisie ondersoeke tot effektiewe vervolging lei.

Porseleintjie ·

Daar was “n tyd dat SA ‘n skoon en veilige land was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.